Update
GEORGE NUUS - Die drie seuns van Borcherds, wat van moord en ander aanvalle in dié omgewing verdink word, het vandag, Maandag 17 Augustus, vir hul borgtogaansoeke in die George-landdroshof verskyn.
Die jong verdagtes is in Julie in hegtenis geneem na die grusame moord op Nkosinathi Mntonga (34), asook vier ander aanvalle in Borcherds en Lawaaikamp. Die aanrandingslagoffers sluit 'n polisieman, 'n paramedikus en twee jong vroue in. Een van die jong vroue het onlangs ‘n suksesvolle oogoperasie ondergaan.
Weens protesaksie deur gemeenskapslede van Lawaaikamp buite die hof vanoggend is die borgtogaansoek egter tot Maandag 24 Augustus uitgestel. Sommige gemeenskaps- en familielede van die slagoffers voel dat die seuns se borgtog geweier moet word.
Een van die verdagtes se regsverteenwoordiger was ook afwesig weens siekte. Al drie die verdagtes is minderjarig en is tot dusver in aanhouding by verskillende jeugsentrums in die provinsie.
Volgens ‘n bron is die seuns deel van die Rafoela-bende wat gereeld verwoesting in Lawaaikamp, Borcherds en Parkdene saai. Die Rafoelas het blykbaar ook lede in Blanco.
Optoggangers het op die eiland oorkant die hof gestaan om sosiale afstand te hou.
Verwante artikel: Borcherds steier onder bendes
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'