GEORGE NUUS - Drie seuns, insluitende 'n tienerseun (17) van Borcherds wat verlede maand beweer het dat 'n polisieman hom geskiet het*, is die afgelope naweek aangekeer vir die grusame moord op Nkosinathi Mntonga (34), asook vier ander aanvalle in Borcherds en Lawaaikamp.
Die aanrandingslagoffers sluit 'n polisieman, 'n paramedikus en twee jong vroue in.
Al vyf die slagoffers is met pangas en skerp voorwerpe aangeval en is in plaaslike hospitale opgeneem.
Die paramedikus is aangeval toe hy na een van die beseerdes in Charlie Hugostraat in Lawaaikamp omgesien het.
Die aanvalle spruit blykbaar uit 'n beweerde roof wat Saterdagaand 4 Julie omstreeks 21:00 in Brucestraat, Borcherds, plaasgevind het.
"Daai seun en nog vier ander was soos besetenes en het die man uitmekaar uit gekap asof hulle hout kap," vertel 'n inwoner oor een van die voorvalle, wat omstreeks 23:45 Saterdagaand in Lawaaikamp plaasgevind het. "Hulle is lede van die Rafoela-bende, meeste van hulle is jong seuns," vertel 'n ander, wat anoniem wil bly. "Hulle saai verwoesting, veral in Lawaai, Borcherds en Parkdene. Dit is veral oor naweke wat hulle met ander groepe baklei en mense aanval, maar laasweek se voorval was baie wreed.
Dit was vir 'n tyd lank stil in die area, veral aan die begin van lockdown, maar die afgelope paar weke gaan dit deurmekaar soos die groepe oor-en-weer baklei. Optrede teen die bendes is dringend nodig, dinge ruk handuit en hulle kan nie die gemeenskap gyselaar hou nie."
Die Rafoelas het blykbaar ook lede in Blanco.
'n Ingeligte bron sê die beseerde polisieman, wat van diens was, woon sowat 10 meter van die moordtoneel. "Hy was besig om sy motor by sy erf in te trek en het sy hek toegemaak toe twee van die ouens hom teen sy kop met die panga kap. Die polisieman, van die Conville-polisie, het in die huis ingehardloop en vermoedelik weer uitgekom toe hy die sirene van die ambulans hoor. Toe hy weer by sy hek kom, toe steek hulle hom twee keer in sy maag en sy. Die ambulans, wat eintlik na die moordtoneel op pad was, het by hom gestop om te help toe word die paramedikus ook gesteek."
Sover George Herald kon vasstel is beide die polisieman en die paramedikus met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem en nog nie ontslaan nie.
"Die seuns het behalwe die aanvalle op die drie mans, dieselfde aand ook twee ander vroue aangeval. Een van die vroue se oog is glo amper uitgesteek," sê die bron.
Volgens dié slagoffer se ma moet haar dogter dalk binnekort 'n operasie aan haar oog ondergaan.
"Sy is met 'n baksteen teen haar regteroog gegooi en sy het 'n kapwond aan die onderkant van haar oog," sê sy. Die beseerde is sedertdien uit die George-hospitaal ontslaan en moet later teruggaan wanneer hulle sal besluit wat om volgende te doen. Sy het blykbaar die beserings opgedoen tydens 'n bakleiery wat ná die beweerde roof in Brucestraat ontstaan het.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sersant Chris Spies, het die ondersoek ná die moord en poging tot moord tot die inhegtenisname van drie minderjarige verdagtes gelei.
Hulle het hul eerste verskyning Dinsdagmiddag, 7 Julie, in die George-landdroshof gemaak, waar die saak tot 4 Augustus uitgestel is. Al drie is in aanhouding by verskillende jeugsentrums in die provinsie.
"Die ondersoek is in 'n gevorderde stadium en daar kan meer aanklagte bygevoeg word namate dit vorder," sê hy.
* Die Onafhanklike Polisie Direktoraat (Opod) ondersoek 'n saak van poging tot moord ná 'n 17-jarige seun na bewering twee keer deur 'n Conville-polisiebeampte geskiet is. Die voorval het Saterdag 20 Junie omstreeks 20:00 plaasgevind. By navraag het 'n woordvoerder, Ndileka Cola, gesê die ondersoek duur voort.
Een van die vroue-slagoffers het tydens die bakleiery in Borcherds beserings aan haar gesig en kop opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'