GEORGE NUUS - Die jong seun, Tyler Klaasen (10), wat ernstig beseer is ná 'n tref-en-trap op die hoek van Attakwa- en Missionstraat in Rosemoor op Woensdag 16 Februarie, sterk goed by die huis aan.
Volgens sy ouma, Myra Klaasen, was Tyler, 'n leerder by Hibernia Primêr, op pad skool toe, toe hy omgery is.
Die bestuurder van die voertuig het van die toneel weggery, maar is intussen deur Conville-polisie opgespoor.
"Ons kan bevestig dat 'n persoon, wat na bewering die voertuig ten tyde van die voorval bestuur het, opgespoor is. Die ondersoek is reeds op 'n gevorderde stadium en die dossier sal na afloop van die ondersoek aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig word vir 'n beslissing," het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, gesê.
Tyler moes kort ná die voorval 'n groot operasie aan sy been ondergaan. "Hy was Maandagoggend, 28 Februarie, vir 'n opvolgbesoek by die dokter. Dit gaan goed met hom en hy loop mooi met sy krukke. Hulle beplan om oor drie maande die gips te verwyder om te sien hoe die been herstel, waarna hy weer vir drie maande met gips moet loop," het sy ouma, Myra Klaasen vandeesweek gesê.
Tyler kort ná die voorval in die hospitaal. 'n Staal- pen moes in sy been ingeplant word om die breuk te heg.
Vorige artikel: Seun beseer in tref-en-trap
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'