Update
GEORGE NUUS - 'n Sentrum vir haweloses is uiteindelik besig om vorm aan te neem. "Hierdie is 'n droom wat al jare aankom, ons is baie opgewonde oor die vordering van die projek," sê André Olivier van Cremhog.
Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) is al lank aan die werskaf om 'n perseel beskikbaar te stel vir die rehabilitasie en huisvesting van haweloses.
Die perseel waar die sentrum opgerig gaan word is aan die onderpunt van Markstraat, naby die George-stasie. Die erf is onlangs omhein en beveilig - met die hulp van vier haweloses persone - sodat bouwerk op die perseel kan begin. "Hulle is net so opgewonde oor die sentrum," sê Olivier.
Die sentrum se naam is nog nie gefinaliseer nie, maar sal binnekort tydens 'n openingsgeleentheid aangekondig word. Die doel is om hawelose persone uiteindelik te herintegreer in die gemeenskap, volgens elkeen se unieke omstandighede en behoeftes.
Dit kos sowat R1 500 per maand om 'n hawelose te huisves en sosiale bystand te verleen. Met die rehabilitasieprogram sal 'n hawelose vir ses maande by die sentrum gehuisves word. Cremhog is tans besig om borge te werf om te verseker dat tot 24 persone wat tans op straat woon, elke ses maande gehelp kan word.
"Ons beoog om reeds hierdie komende winter haweloses te huisves en by die program in te skakel," sê Olivier. Intussen word daar reeds gewerskaf met voorbereidings vir die aanplant van struike en groente.
Noudat die perseel omhein is sal bouwerk binnekort begin.
Wat kort nog?
- Twee B-graad skeepsvraghouers (2x6 m of 1x12 m) wat vir sekere fasiliteite ingerig sal word.
- Hulp met die bou van badkamers en toilette. Alle bydraes en donasie kan erken word met 'n Artikel 18A kwitansie vir belastingdoeleindes.
Intussen groei die aantal behoef-tige persone wat weeksdae en Sondae by die kiosk-bedienings-punt in die parkeerarea agter Ackermans 'n maaltyd kom haal.
Kerke, besighede en lede van die gemeenskap wat wil help kan kontak maak met André Olivier by andre.olivier1962@gmail.com of 082 551 8900.
Die volgende word benodig:
- Nie-bederfbare bestanddele soos rys, stampmielies (samp) en pasta;
- Persoonlike higiëne pakkies per maand: seep, tandepasta, tandeborsel en sanitêre ware vir dames;
- Konfyt;
- Skoene vir mans: no. 5 tot 8;
- Baadjies en truie: alle groottes.
Die erf by die perseel waar die sentrum opgerig gaan word is onlangs omhein en beveilig.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'