GEORGE NEWS - Die voorkoms van demensie is 'n groeiende tendens en om mense te bemagtig hoe om dit te benader, word 'n Demensie-seminaar op 19 September van 08:00-13:00 by NG Moederkerksaal, Kerkstraat George gehou.
Die sluitingsdatum vir mense wat dit wil bywoon is reeds 16 Augustus.
Die seminaar is 'n gesamentlike inisiatief van Tuiniqua Versorgingsentrum, die Alzheimer’s Ondersteuningsgroep van George, asook Excellentis Kliniese-navorsingskonsultante.
Alle betrokkenes (belanghebbendes) word genooi, van die persoon wat met Demensie gediagnoseer is, familie en vriende, tot die persone wat op latere stadium betrokke is by die versorging.
Janine Nel, 'n maatskaplike werker by Tuiniqua wat betrokke is by die reëlings het aan die George Herald gesê toegang is gratis. Mense wat dit bywoon sal wel 'n donasie kan maak. Donasies sal gebruik word om kostes te dek.
Dit word gehou om saam te val met Wêreld Alzheimer’s Bewusmakingsdag wat elke jaar op 21 September plaasvind.
"Met die beplande seminaar streef ons daarna om alle belanghebbendes van Alzheimer, asook demensie in die breë, toe te rus met kennis oor die siektetoestand, wat op sy beurt weer bemagtiging in die hand werk. Persone wat met demensie saamleef, hul naasbestaandes, versorgers en professionele persone is almal hartlik welkom om die seminaar by te woon."
Volgens haar is Alzheimer’s reeds in 1901 die eerste keer gediagnoseer deur dr. Alois Alzheimer. Demensie is 'n sambreelterm wat gebruik word om ‘n groep simptome te beskryf wat ‘n impak het op ‘n persoon se geheue, uitvoering van daaglikse aktiwiteite en kommunikasievermoë - Alzheimersiekte is een vorm daarvan.
Na raming het 44 miljoen van die wêreld se bevolking Alzheimer’s en in Suid-Afrika sowat 750 000 mense.
Janet Hart, voorsitter van die Alzheimer’s Ondersteuningsgroep van George, het gesê daar is meer as 100 vorme van demensie.
Een van die bekendste simptome is geheueverlies. Daar is in die stadium nie 'n geneesmiddel. Hoe vroeër dit gediagnoseer word, hoe beter. So kan gehelp word om die lewenskwaliteit van 'n betrokke sover moontlik te behou.
Faktore wat dit kan veroorsaak is byvoorbeeld lewenstyl, spanning en eetpatrone.
Haar belewenis is dat mense deesdae meer openlik daaroor praat.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het by navraag gesê die instansie het goeie vennote in George. "Ons wil iets gratis vir die gemeenskap gee."
Volgens haar is 'n groot deel van die bevolking in George bejaard. Proporsioneel tot die ouderdomme van mense, sal inwoners te doen kry met demensie in een of ander vorm.
Daar is 'n beperkte aantal plekke beskikbaar. Vir navrae kontak gerus Janine Nel by Tuiniqua by 044 874 5760.
* A Seminar on Dementia will be held on 19 September at the NG Moederkerk Kerksaal. Entrance is free en closing for registration is Friday (16 August)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'