GEORGE NUUS - Misdaad in Sektor 2 lyk "in die algemeen beter, as dieselfde tydperk verlede jaar.
Só het kapt. Natasha Jansen van Vuuren van die George-polisiestasie tydens 'n algemene sektorvergadering op Maandagaand, 6 Februarie in die Van Kervel-skoolsaal gesê.
Sy het ook die plaaslike buurtwagte vir hul onbaatsugtige werk wat hulle in die gemeenskap doen, geprys.
"Ons werk goed saam en ek bedank julle vir jul bystand."
Sektor 2, wat strek vanaf die Sasol-vulstasie by die afrit na die Outeniqua Family Market, tot by die Witfonteinafrit langs Heatherlands, word deur drie buurtwaggroepe, Denneoord-buurtwag, Bergsig-buurtwag en Camphersdrift, Glen Barrie en Heatherlands (CGH)-buurtwag gepatrolleer.
Volgens haar is internetbedrog wel 'n kommerpunt.
Die gemeenskap word gemaan om eerder goedere uit die hand uit te koop of 'n vertroueling te vra om eers die item(s) te besigtig voor enige gelde betaal word.
"Dit is 'n misdaad wat baie moeilik gepolisieer kan word en inwoners moet ten alle tye waaksaam hierteen wees.
Om hulself te beveilig word inwoners gevra om op te let na die volgende punte:
- Moenie gesteelde eiendom koop nie.
- Parkeer voertuie agter hekke en heinings indien dit enigsins moontlik is. Die meeste diefstal uit voertuie gebeur deur die nag waar voertuie op straat staan.
- Moenie waardevolle items in motors los nie.
- Hou voertuie se deure gesluit ten alle tye. Selfs wanneer daar bestuur word.
- Maak seker dat alle deur en veiligheidshekke gesluit bly. Maak seker dat die sleutel nie agter bly nie.
- Inwoners is baie welkom om enige griewe tydens die maandelikse vergaderings te lig. Moenie klagtes oor die polisie of buurtwagte op sosiale media plaas nie.
- Sluit aan en word ‘n aktiewe lid/patrolleerder by jou plaaslike buurtwag.
- Wees op die uitkyk vir buitengewone items op die sypaadjie voor inritte van wonings of werkplekke. As daar iets is, verwyder dit dadelik.
- Moenie waardevolle items los waar dit van die straat af gesien kan word nie.
- Verwyder elke dag alle pos en koerante uit posbusse.
- Maak gebruik van buiteligte.
- Leer jou bure ken. Hulle is die naaste om te kan help as daar moeilikheid is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'