Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners van die Schaapkop-plakkerskamp in New Dawn Park dreig om pale af te brand waaraan elektriese drade gekonnekteer is.
"Ons wil hê George moet suffer in donkerte soos ons die afgelope jare gesuffer het," het een ontevrede inwoner hul gevoelens verwoord.
Die 18 huisgesinne wat hier woon is almal mense wat op die munisipaliteit se behuisingswaglys is, maar steeds wag vir 'n huis en nie kan bekostig om te huur nie.
Shaun Hector, 'n inwoner en woordvoerder vir die groep, sê hulle wag reeds tussen ses en sewe jaar vir elektrisiteit en ander basiese dienste.
Schaapkop, wat op munisipale grond is, het vroeg vanjaar amptelik 'n informele nedersetting geword en die groepie inwoners wil graag basiese dienste hê. Na 'n lang gesukkel het hulle twee krane en drie toilette gekry.
Die mense hoop 'n brief wat in Maart aan die munisipaliteit gerig is oor die aanbring van basiese dienste, wat elektrisiteit insluit, sal aandag geniet.
Hector sê daar kom daagliks mense wat vra of hulle nie ook 'n stukkie grond daar kan kry nie.
"Maar ek kan hulle nie toestemming gee nie. Ek moes vir 'n groot vrou sê as sy dit doen, ek Anti-Land Invasion sal moet bel."
Hy sê daar is vir hulle gesê hulle kan die dienste kry, op voorwaarde dat daar nie verder huise gebou word nie. Lluwayda Hector, Shaun se vrou, sê dit plaas hulle en veral Shaun in 'n moeilike posisie. "Hy is al met sy lewe gedreig omdat hy wou help en daar nie gou genoeg gereageer is nie."
Shaun Hector, die voorsitter van Schaapkop informele nedersetting in New Dawn Park saam met sy vrou, Lluwayda.
Shaun sê hy kan die mense net so lank kalm hou. "Ek dink nie hulle sal oorgaan tot aksie nie, maar die mense het reeds te lank gewag. Hulle verwag antwoorde teen Vrydag."
Chantel Edwards-Klose, die kommunikasiebestuurder by George-munisipaliteit, sê die Schaapkop informele nedersetting kan sowat 20 families
huisves. Sy sê die koste van elektrisiteits-voorsiening aan die area word bereken op
R300 000, maar dan moet die infrastruktuur vir grootmaatvoorraad in plek wees.
Die waarnemende direkteur vir elektroniese dienste, Paul Gerber, kon egter nie kommentaar lewer op die grootmaatvoorraad se beskikbaarheid vir die area nie.
Kyk 'n video hieronder.
Die bewyse dat meeste van die mense wel op die behuisingswaglys is.
Hy sal dit slegs kan doen ná 'n formele ondersoek van die area waar die nedersetting geleë is.
"Die departement het nie finansies beskikbaar vir die finansiële boekjaar om elektrisiteit te voorsien nie. Dis omdat die begroting alreeds toegeken is."
Gerber sê die departement is wel in 'n posisie om 'n spreilig hier te installeer en die moontlikheid sal aandag geniet.
Elmarie Trantraal deel die huisie met haar man en twee kinders, en kan nie werk nie omdat sy 'n gewas op die brein het. Haar man is ook werkloos.
Ook het die departement van menslike nedersettings aangedui dat hulle reeds 'n formele ondersoek van die area voltooi het en 'n paar areas geïdentifiseer het. Tot tyd en wyl is water- en sanitasiefasiliteite beskikbaar gestel.
George-munisipaliteit sê ook hulle sal enige kriminele dade direk by die Suid-Afrikaanse polisie aanmeld.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'