Mev. Venter het die Artistico Galery in George besit, maar twee jaar gelede in Oudtshoorn afgetree. Sy was 40 jaar in die kunsbedryf en spesialiseer steeds in ou meesters en kuns as belegging. Sy was die stigter van die SA Raad vir Sakevroue in 1982 en die eerste vrou op die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS). Sy was 'n gereelde gas op RSG en het ook op Pasella 'n insetsel gedoen oor kuns as belegging.
Me. Venter was eregas by die funksie waartydens mnr. Mandela 'n toekenning van die AHI ontvang het en het haar ervaring met die George Herald gedeel.
Sy sê Madiba was die persoon met die beste lyftaal wat sy in haar lewe ontmoet het. "Sy 'presence' was enorm en hy het meelewendheid uitgestraal. Mens kry dit baie min in die lewe. Hy vra eers jou naam en gee jou dan 'n druk. Die hele aand het hy my op my naam genoem. In my 40 jaar in besigheid het ek baie hoë lui ontmoet, wat jou laat voel jy moet hulle as gevolg van hulle titels respekteer - met Nelson Mandela was daar nie 'n sweempie daarvan nie."
Sy sê sy dink hy het werklik vergewe wat aan hom gedoen is. "Ek kon nie die kleinste wrok by hom optel nie. Hy was alles behalwe verwaand en het die kleinste dingetjie opreg waardeer. Hy het jou ook geweldig spesiaal laat voel - hy het nie net gegroet en geloop nie, maar telkemale omgedraai en gewaai. Dit was baie spesiaal om hom te ontmoet en ek sal die aand nooit vergeet nie."
Teen saktyd was Madiba, wat gister sy 33ste dag in die Mediclinic Harthospitaal in Pretoria deurgebring het, se toestand volgens die Suid-Afrikaanse presidensie steeds kritiek, maar stabiel.

Van links is mnr. Lamprecht Laubscher (voormalige president van die AHI) mnr. Nelson Mandela, me. Hermien Wilken (voormalige president van die SA Raad vir Sakevroue) en bekende sakevrou van George, me. Rika Venter (erelid van die Afrikaanse Handels Instituut, AHI) by 'n funksie in 2002.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'