Update
GEORGE NUUS - Iets moet gedoen moet word, maar die vraag is hoe en wat. Dit is die boodskap van belanghebbendes oor een van die gevaarlikste en berugste kruisings in George, die sogenaamde lughawe-kruising.
Dié stuk provinsiale pad, waar die R404 en die R102 mekaar kruis was al die toneel van verskeie noodlottige en ernstige ongelukke. Minder as twee weke gelede was daar weer 'n ernstige motorongeluk by die kruising.
Donald Grant, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het daarna gesê die oplossing is nie noodwendig meer beleggings in infrastruktuur nie. Padgebruikers se gedrag en gesindheid moet verander.
'n Sakeman en eiendomsontwikkelaar van George, Willie van Heerden, stem egter nie heeltemal saam met Grant nie.
Van Heerden het by navraag van die George Herald gesê die vestiging van padinfrastruktuur behoort primêr te wees. So sterk voel hy oor die aangeleentheid dat hy bereid is om uit sy eie sak te betaal vir die bou van 'n sirkel.
Volgens hom moet beheermaatreëls 'n realiteit wees. Die kruising gaan nog besiger word. Die George-lughawe was in 2018 die snelgroeiendste binnelandse lughawe met 70%.
Hy het reeds onafhanklike studies oor die vestiging van 'n sirkel laat doen. Volgens hom is 'n verkeersingenieur deur die Wes-Kaapse provinsiale administrasie aangestel wat 'n sirkel ontwerp het en waarvoor hy betaal het. Daar is glo nooit na die planne gekyk nie. "Ons sien hoe George ontwikkel en die situasie met die kuising haak vas."
Hy het al gesprekke gehad met Grant en ook Helen Zille, die uittredende Wes-Kaapse premier.
Alles wat hy wil doen is binne die wet en hy het nog nooit 'n kortpad gevat nie.
Dit is waar dat hy eiendom in die gebied besit. Sy pleidooi is as ontwikkelaar en inwoner van George. Sy eie seun was in die verlede in 'n ernstige motorongeluk by die kruising.
Hy soek nie 'n konfrontasie nie. "Ons wil werksgeleenthede skep en die probleem oplos."
André Barnard, inwoner van die gebied, het gesê die kruising bly 'n probleem. Dit wil voorkom of die meerderheid van die mense wat in ongelukke betrokke is van die Suid-Kaap kom. "Kruisings is gevaarlik. Die lughawe-kruising is van kritieke belang vanweë die volume verkeer.
"My indruk is mense slaan nie ag op verkeerstekens nie. Dit is blatante dissipline wat nie gehandhaaf word nie. As ons nie groot raak en padreëls gehoorsaam nie, gaan daar steeds probleme wees."
Hy het verlede week 'n gesprek met Grant gehad. Grant het hom die versekering gegee dat iemand namens die Wes-Kaapse premier se kantoor sal reageer.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê hy is bewus van die probleme by die kruising. Hy het al met die belanghebbendes soos Acsa daaroor gepraat. Volgens hom is dit belangrik dat die pad veilig is.
Die betrokke owerhede moet ag slaan op die dringendheid van die aangeleentheid. Dit is krities belangrik dat die padinfrastruktuur reg moet wees by lughawe- en ekonomiese-ontwikkeling in die gebied.
Lees 'n verwante artikel hier: Motorongeluk op Lughawepad
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'