TUINROETE NUUS - Shafiqul Islam (47), 'n besigheidsman van Kuruman, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Dit volg na hy met 24 000 pakkies onwettige waterpyptabak (tabak vir 'n hubbly bubbly) gevang is en probeer het om 'n polisieman met 'n R1 000 om te koop.
Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het die week in 'n persverklaring gesê, as deel van Islam se vonnis, is hy onder 36 maande huisarres by sy woning in Kuruman in die Noord-Kaap geplaas en moet hy ook R260 000 aan die kriminele bates-herstelrekening betaal.
"Islam het die waterpyptabak teen 'n baie lae prys gekry.
"Hy het geweet dat dit slegs moontlik is as die belasting op die tabak nie betaal is nie.
"Hy het dit egter steeds aangekoop met die doel om 'n wins te maak.
"Islam het 'n vriend gevra om die tabak na George te neem en het die vriend sowel as die huur van die voertuig betaal," het Ntabazalila in die verklaring gesê.
Die 24 000 pakkies tabak was in 96 bokse verpak en agter bokse wat wettige sigarette en babadoeke bevat het, versteek.
"Hy het gehoop, indien hulle voorgekeer sou word, die onwettige tabak nie gevind sou word nie.
"Op 20 September 2016 het sersante Alistair Reagen Lottering en Reginald Jaftha, van die SA polisiediens, die voertuig in Schoemanstraat in De Rust afgetrek.
"Dit is toe dat hulle die onwettige tabak ontdek het.
"Die beskuldigde kon slegs dokumentasie vir die sigarette en die doeke verskaf en hy is deur die polisie gevra om hulle na die De Rust-polisiestasie te vergesel.
Op pad na die stasie het die verdagte probeer om sersant Jaftha om te koop."
Volgens Ntabazalila is daar met verdere ondersoek gevind dat die tabak nie aan die Suid-Afrikaanse gesondheidsregulasies voldoen nie omdat die voorgeskrewe telefoonnommer nie op die pakkies verskyn nie.
Die bevindinge is ook deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bevestig. Die totale verlies aan belastinggeld wat verskuldig is is R260 819,84.
Adv. Jacobus Hough, die staatsaanklaer, het gesê persone wat met onwettige sigarette en tabak handeldryf ding op 'n ongelyke voet mee met diegene wat dit op 'n wettige wyse doen.
"Indien daar nie ernstig teen mense wat onwettige goedere verkoop opgetree gaan word nie, gaan besigheidseienaars wat hul besighede op 'n wettige wyse bedryf in die versoeking kom om ook eerder onwettige produkte te verkoop."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'