GEORGE NUUS - 'n Vraag op die sakegemeenskap se lippe is of een van die grootste geleenthede op George se kalender, die jaarlikse George-sakekamertoekennings, wel vanjaar gaan plaasvind.
As gevolg van Covid-19 is dit ook nie verlede jaar gehou nie. In 2019 is Nelius van Greunen as sakepersoon van die jaar aangewys.
Die aangeleentheid is verlede Donderdag 15 Julie tydens 'n werksessie van die George-sakekamer bespreek. Dr. Willie Cilliers, ondervoorsitter van die George-sakekamer, sê die Covid-19-regulasies beperk onder meer bywoningsgetalle van openbare funksies.
In die stadium is dit nie duidelik hoe lank die regulasies nog van toepassing gaan wees nie. Die sakekamer sal graag die geleentheid wil aanbied, maar veiligheid is prioriteit.
Hy het benadruk die geleentheid gee erkenning aan sakeleiers, entrepreneurs en klein sakeondernemings.
"Dit dien ook as motivering. Dit is juis nou belangrik in die uitdagende tye waar sakeondernemings onder groot druk verkeer. Ons moet plaaslike sakelui en ondernemings ondersteun. Die geleentheid help ook om samehorigheid tussen die plaaslike sakegemeenskap te vestig en te versterk."
Daar word binnekort met die hoofborg Absa oor die pad vorentoe gepraat en 'n aankondiging sal weldra gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'