GEORGE NUUS - 'n Senior verkeersbeampte van George-munisipaliteit, Benzil Ramati, staar verskeie aanklagte in die gesig nadat 'n werknemer van CMS Towing Services onder meer 'n saak van crimen injuria en aanranding teen hom aanhangig gemaak het.
Die eienaar van CMS Towing Services, Christo Muller, het self ook 'n saak van crimen injuria teen Ramati aanhangig gemaak.
Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat die sake steeds ondersoek word. "Geen verdagtes is voor die hof gebring nie. Sodra die ondersoeke afgehandel is sal dit aan die NVG voorgelê word vir beslissing."
Die sake spruit uit dieselfde voorval, waartydens Ramati op Vrydag 13 Mei by 'n ongelukstoneel in Knysnaweg, naby die BMW-motorhandelaar, 'n werknemer van CMS Towing Services in hegtenis geneem het, en na bewering hardhandig hanteer het.
Volgens Muller het Ramati gevloek tydens 'n telefoongesprek met hom oor die werknemer, André 'Stef' Hauptfleisch, se inhegtenisname.
Hauptfleisch was vir 'n klompie ure toegesluit, maar is later dieselfde aand vrygelaat. Volgens Muller het Hauptfleisch vir sy hofverskyning opgedaag, maar is hy meegedeel dat daar geen saak teen hom op die rol is nie.
Munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, het bevestig dat 'n brief rakende die voorval op 30 Junie ontvang is, en dat die saak ondersoek sal word. Sy het egter gesê die betrokke amptenaar is 'n vredesbeampte wat binne sy magte opgetree het, en oor die gesag beskik om boetes uit te reik en arrestasies uit te voer. Ramati wou nie self kommentaar lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'