Update
GEORGE NUUS - Die moordverhoor waarin sewe mans vir die 2017-moord van Gershwin Verlaat aangekla word, het Maandag 5 Augustus in die George-streekhof begin.
Vier verdagtes, Charldon Heynes, Kesharne Mostert, Marlen Willeman en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding. In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kennith Windwaai, Eswyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem.
Windwaai is op borgtog vrygelaat. Van Rooyen en Campher is steeds in aanhouding.
Verlaat se liggaam is Saterdagoggend, 2 Desember 2017 in Genesisstraat, Rosedale met wonde aan sy kop gevind. Die aanval was vermoedelik 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis in Lotsstraat doodgesteek is.
In haar getuienis het Dorina Frans haar weergawe van gebeure voor en na die beweerde wraakaanval aan die hof gegee. Sy is ‘n taverne-eienaar in die area. Van die verdagtes het blykbaar voor en na Windwaai se moord by haar taverne bymekaargekom.
Sy is kruisondervra deur die verdagtes se regsverteenwoordigers, Winston Jansen en Clayton Samson, asook die staat, waarna die saak tot Woensdag 7 Augustus, uitgestel is.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
Lees vorige artikels:
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'