GEORGE NUUS - Die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV), in samewerking met plaaslike wetstoepassingsbeamptes, het op Dinsdag 17 Augustus 'n skutoperasie uitgevoer en rondloperperde en -beeste in woonbuurte verwyder en geskut.
Dit volg ná die soveelste perd verlede week op die N2 doodgery is.
Die DBV se waarnemende bestuurder, inspekteur André Baartman, sê sulke operasies is van uiterste belang om die veiligheid van die gemeenskap en diere te verseker.
"Dit is die mandaat in terme van die munisipale bywette dat eienaars hul diere veilig hou en nie sonder toesig laat rondloop nie.
Hierdie diere het reeds te veel ongelukke veroorsaak en kan noodlottige gevolge vir beide mens en dier inhou. Eienaars moet aanspreeklik gehou word vir vee wat ronddwaal," sê Baartman.
Verskeie perde en beeste is tydens die operasie geskut.
"Dankie aan die wetstoepasssingsbeamptes en die betrokke DBV-inspekteurs vir hierdie inisiatief. Ons sal saam met die munisipaliteit voortgaan om hierdie operasies uit te voer om ons gemeenskappe te dien," sê Baartman.
LEES MEER: Twee perde naby Pacs doodgery
Twee van die rondloperperde wat onlangs deur die Tuinroete-DBV en plaaslike wetstoepassingbeamptes geskut is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'