Update
GEORGE NUUS - Noudat George se bobaasroeier, Jannie Malherbe, sy 47ste Bergrivierkanomarathon agter die blad het, wag daar net twee van dié wedvaarte voor hy sy groot droom verwesenlik: om in 2022 sy 50ste Bergrivier te roei. Malherbe, wat vanjaar op 28 November sy 80ste verjaarsdag vier, sal dan 82 wees, en te oordeel aan sy prestasie tydens die pas afgelope 240 km-wedvaart, sal die superfiks atleet dit beslis maak.
Malherbe het Saterdag net na die laaste been van die 2019 Bergrivier aan George Herald gesê hy was nooit werklik moeg nie.
"Daar is baie water en die weer was goed. Net die laaste uur was bietjie moeilik, want toe was daar 'n wind van voor."
Die wedvaart strek oor vier dae en begin in die Paarl en eindig in Velddrif.
Vanjaar se wenners is die spanmaats Hamish Lovemore and Tyron Maher van Durban. Op 19 is Lovemore die jongste wenner ooit van die 58-jaar-oue wedvaart - 'n volle 60 jaar jonger as Malherbe wat die resies al drie keer gewen het. Malherbe is die oudste roeier ooit om die Bergrivier te voltooi en ook die enigste deelnemer wat die eerste wedren in 1962 geroei het en steeds deelneem.
Die jong Lovemore is dalk deesdae 'n bietjie vinniger as Malherbe, maar hy kan baie by die Georgiet leer oor aanhou en uithou. Dié roeilegende glo daaraan om lang ure op die water aan te vul met 'n glasie rooiwyn op land.
Hy het vanjaar selfs op TV-nuus dié drankie se lof besing. "Sportmanne sukkel om borgskappe te kry, maar ek het my deel vir rooiwynbemarking gedoen. Miskien kan 'n wynlandgoed my borg!"
Hierdie jaar het sy skoonseun, Hanre Streicher sy derde Bergrivier voltooi en volgende jaar gaan Malherbe se seun van Kanada, ook Jannie, saam met hom vaar om sy 80ste verjaarsdag te herdenk. Jannie jr. is al twee keer vir die nasionale Kanadese roeispan gekies.
Malherbe se vrou Thea is die oudtennisster en Australiese ope wenner Johan Kriek se suster en self 'n kranige tennisspeler. Sy gaan elke jaar saam na die Bergrivier - vir haar ook 'n hoogtepunt van die jaar.
Malherbe is die afgelope Saterdag tydens die Bergrivierkanomarathon se prysuitdeling op Velddrif vereer vir sy deelname aan die wedren wat oor vyf dekades strek.
Die eresertifikaat lees: "The man, the myth, the legend - Jannie Malherbe - 47 Bergs."
Forty-seven and counting...
Lees 'n vorige artikel: Jannie klink 'n glasie op 47ste Bergrivier
Jannie en Thea Malherbe net na afloop van die Bergriviermarathon op Velddrif.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'