GEORGE NUUS - George se bobaasroeier, Jannie Malherbe het reeds sy eerste glasie rooi wyn geskink na hy net voor middagete sy 47ste Bergrivierkanomarothon met gemak voltooi het.
Malherbe, wat in November sy 80ste verjaarsdag vier, sê die marathon van 240km was vanjaar redelik maklik.
“Daar is baie water en die weer was goed. Ek was nooit een keer in die vier dae werklik moeg nie. Die laaste uur was bietjie moeilik, want toe was daar ‘n wind van voor.”
Hy sê die atmosfeer op Velddrif waar die wedvaart eindig is ongelooflik. “Dit voel soos nuwejaarsdag. Dit wemel van de mense. Die Sandvelders weet hoe om te kuier.”
Op byna 80 is Malherbe superfiks en hoewel hy nog nie die uitslae het nie, het talle jonger manne na hom geeëndig.
Sowat 90 roeiers het vanjaar deelgeneem, insluitend die 70-jarige Theo van Deventer, wat beplan om sy 50ste Bergriviermarathon volgende jaar aan te pak.
Malherbe sê soos hy nou voel sal hy beslis in 2022 ook sy 50ste Bergrivier voltooi. “Hierdie jaar het my skoonseun, Hanre Streicher sy derde Bergrivier geroei en volgende jaar, wanneer ek 80 is, kom my seun van Kanada, ook Jannie, saam met my roei. “ Jannie Jr is al twee keer vir die nasionale Kanadese roeispan gekies.
Malherbe sê na vier dae op die Bergrivier is ‘n mens vir lank behoorlik “opgecharge”.
“Vir ‘n maand is jy op ‘n topgraad van fiksheid. Dis moeilik om die gevoel te beskryf. Jou ‘muscle tone’ is dan ongelooflik.”
Sy vrou Thea is elke jaar saam met hom by die Bergriviermarathon en bied ondersteuning van die wal. Vir haar is die Bergrivier ook ‘n hoogtepunt van die jaar.
By vanaand se prysuitdeling sal Malherbe hoor wat sy wedvaarttyd was en dan sal hy en Thea verder kuier saam met die mense van Velddrif, natuurlik met sy geliefkoosde drankie, ‘n glasie rooiwyn, in die hand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'