GEORGE NUUS - Die legendariese kanovaarder Jannie Malherbe van George het vandag die tweede skof van die 2019 Bergrivier-kanomarathon met gemak klaar gemaak – op die ouderdom van 79!
Dit is Malherbe se 47ste Bergrivier en dié kanniedood mik om in 2022 sy 50ste kanovaartmarathon op die Bergrivier te voltooi.
Hy het in 1962 aan die heel eerste Bergrivier-kanomarathon deelgeneem en die volgende drie byeenkomste gewen.
Malherbe het gisteraand ook op Enuus verskyn en aan die joernalis vertel dat hy ‘n glas rooiwyn nadertrek sodra hy van die water af is. “ Saam met roei is dit die beste medisyne,“ reken Malherbe, en te oordeel aan sy jeugdige voorkoms en fiksheidsvlak is hy reg.
Die 4-dag-kanovaart van Paarl tot op Velddrif aan die Weskus strek oor 240km en eindig Saterdag, 6 Julie.
Malherbe spring elke dag net agter die gekeurde roeiers weg in die legende groep.
Sy vrou Thea het vandag (Donderdag 4 Julie) gesê haar man roei lekker en alles gaan goed. “Die rivier is vol en loop sterk.”
Lees 'n vorige artikel: Witwater bruis deur sy are
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'