Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Een van die grootste sportsterre van George, Jannie Malherbe, is 'n man met 'n missie.
Hierdie witwaterlegende wil oor vier jaar sy 50ste Bergrivier-kanomarathon op sy kerfstok hê - op ouderdom 82.
Malherbe is op 79 die enigste mens op aarde wat die heel eerste Bergrivier in 1962 geroei het en steeds elke jaar die uitmergelende 240 km-marathon baasraak. Hy het al 46 keer deelgeneem, maar vir hom is 50 van dié ervarings 'n moet. Dis egter glad nie te sê dat hy dan sy roeispaan sal ophang nie, want solank sy lyf hou, sal 'n mens hom êrens op 'n rivier in sy kano kan sien.
Malherbe het twee naweke gelede die Visrivier aangedurf en honderde van die jonger deelnemers water in die gesig geroei.
Ongelukkig is daar niemand in sy ouderdomsgroep wat nog deelneem nie, so dit beteken hy kompeteer deesdae teen homself. "Jy kan net 'n medalje wen as jy minstens drie in 'n kategorie is. Maar oor die jare het ek al drie keer goud gewen en verskeie plekke verower, so ek het darem genoeg medaljes om te wys."
In 1967 was hy deel van die eerste Springbok-roeispan wat gekies is om internasionaal deel te neem. "Wat 'n heerlike trip. Ons het in Duitsland, Engeland en Spanje deelgeneem. In Spanje word roei geweldig ernstig opgeneem. Massas mense gaan kyk na die wedvaarte. Dit is 'n belewenis."
Malherbe sê behalwe vir 'n bietjie druk op jou skouers, is roei sag op die liggaam. "Ek het my drie seuns aangemoedig om te roei, want ek was bang hulle kry seer in rugby. Maar as die pa of ma nie self roei nie, is daar min kinders wat die sport kan beoefen, want dit neem baie tyd en rondryery. Jy moet vir ure op 'n rivier oefen, so jy moet die kinders neem en gaan haal of vir ure daar wag. Baie deelnemers begin eers roei in hulle laat 20's of vroeë 30's."
Jy moet jou sit op 'n kano ken om soos Jannie Malherbe in 'n skuins stroomversnelling regop te bly. Foto: Hennie Pretorius
Om kanovaart te bemeester is 'n fyn kuns. "Dit het my drie maande gevat om net regop op 'n kano te bly. En dan eers begin jy die ware tegnieke aanleer."
Maar as die gogga eers gebyt het is dit onverbeterlik. "Jy roei in die mooiste natuurskoon en die gesellighede ná die marathons is ook iets om na uit te sien. Veral die Bergrivier, wat eindig in Velddrif op die Weskus, is 'n heerlike party. Die hele dorp neem deel."
Malherbe se vrou Thea is 'n kranige provinsiale tennisspeler en dit loop in die bloed - haar broer is Johan Kriek, die voormalige internasionale tennisster wat op sy dag twee Australiese ope titels verower het.
Kyk 'n video hieronder.
Malherbe sê tenspyte van 'n tekort aan kompetisie, is hy nog net so gemotiveerd soos altyd.
"Die Bergrivier-kanomarathon is in Julie, so hier van Februarie af oefen ek drie ure 'n week. Nader aan die wedvaart oefen ek ses ure 'n week. Sport is lankal nie meer net vir jongmense nie. Ons lewenstyle het ten goede verander en talle ouer mense is fiks en presteer in verskeie sportsoorte."
Jannie Malherbe en sy vrou, Thea, sit voor 'n pragfoto wat sy geneem het toe Jannie verlede jaar 'n platwaterwêreldtitel in Pietermaritzburg losgeroei het. Plascon George was sy borg en onderaan die geblokte foto het Jannie, wat graag met woorde speel, laat druk: Plascon won't let you d(r)own. Foto: Ilse Schoonraad
Te oordeel aan Malherbe se lewenslus en fisiese toestand behoort hy in 2022 sy 50ste Bergrivier-marathon met gemak te voltooi. Die man is gespierd, bruin gebrand en lyk jonger as baie mans 20 jaar sy junior.
En hier is nog 'n ekstra bietjie motivering vir Malherbe: sy vriende, familie en George Herald sal hom ná sy 50ste Bergrivierwedvaart inwag by die eindpunt op Velddrif - reg om saam te party!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'