GEORGE NUUS - 'n Bekende regsgeleerde van George, adv. Donald Ackerman (55), wat ook al naam gemaak het as vervaardiger van wyn, het onverwags op 20 Januarie in Mediclinic George aan Covid-19 verwante komplikasies gesterf.
'n Groot eer het hom verlede jaar in September te beurt geval toe sy 2018 pinot noir (Sovereign of the Seas) aangewys is as een van die top-10-wyne in die Prescient-kompetisie. Laat verlede jaar is dit as die nommer een pinot noir in die land aangewys.
Sedert sy dood bekend geword het, het verskeie mense op sosiale mense met skok gereageer op sy skielike dood.
Sy eggenoot, adv. Urice Deetlefs, het Maandag vertel sy dood is 'n groot skok. Hy was glad nie siek nie. "Ek het in my wildste drome nie gedink hy sal aan Covid-19 sterf nie."
Volgens haar is hy op 7 Januarie in die hospitaal opgeneem. Hy was tydens sy 55ste verjaarsdag, op 11 Januarie, in die hospitaal.
Sy het gesê vir Donald was die lewe 'n glas wat half vol was. "Hy het altyd planne en 'n oplossing gehad. Niks was vir hom onmoontlik nie."
Die egpaar en hul dogtertjie Gabriella (7), het in 2016 na George verhuis. Hy word ook oorleef deur twee susters en 'n broer.
Willie van Heerden, 'n vriend wat hom reeds ses jaar geken het, het Dinsdag gesê Ackerman was 'n vriendelike, gemaklike mens. "Hy het sy woord gestand gedoen. Hy sou nie iets vir jou sê as hy dit nie bedoel het nie - goed of sleg."
Hy het gesê vir Ackerman was sy familie alles.
Volgens Van Heerden was hy 'n opregte vriend en gaan hy gemis word. "Ek sal ook die wyn drink op die stoep mis."
Donald Ackerman - die regsgeleerde en wynmaker
In ’n onderhoud verlede jaar in September met George Herald het hy vertel van die lang pad wat sy wynmakery kom. Ackerman is oorspronklik van Vanderbijlpark in Gauteng en het later na Pretoria verhuis waar hy gewerk en studeer het. In 1990 het 'n vriend hom na 'n ete genooi.
Dié aand het Ackerman 'n 1984 Allesverloren shiraz geproe en daar is die saadjie geplant. Hy wou meer uitvind oor wyn en het op die internet begin rondsnuffel. Hy het ook 'n wynproekursus gedoen en eksamens afgelê.
In 2001 het hy Kaap toe verhuis. "Vir iemand wat in wyn belangstel was die Kaap soos 'n utopie," het hy vertel.
In 'n stadium het hy 'n kantoor langs Pierre Rabie gehad. Rabie het geweet hy gaan elke Woensdag na 'n wynproegeleentheid en wou by hom weet of hy nie belangstel om sy eie wyn te maak nie. Rabie het hom voorgestel aan 'n vriend van sy pa, Johan de Kock, wat naby Bredasdorp wyn gemaak het.
Uiteindelik het hy druiwe by De Kock gekoop. De Kock was ook sy mentor.
In 2013 het Ackerman shiraz-wyn gemaak. Hy het dit in vate gegooi en later aan iemand verkoop wat dit gebottelleer het. Die man het vir 'n kompetisie ingeskryf en 'n prys daarmee gewen. Intussen het Ackerman ook 'n deeltydse wynmakerskursus by die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
In 2016 het hy en sy vrou, Urice, na George verhuis. Hier het hy 'n wynpoe-geleentheid aangebied en met Nico Fourie van Herold Wines gesels. In 2017 het hy druiwe by hom gekoop en in 2018 is die pinot noir gemaak. Dit was die eerste keer dat hy heeltemal op sy eie wyn gemaak het.
Well-known advocate Donald Ackerman from George has died from Covid-19 complications. He was taken to hospital on 7 January and died on 20 January. He turned 55 on 11 January, while he was in hospital. In his free time he made wine and won przces for his hobby. He is survived by his wife adv Urice Deetlefs, a daughter, Gabriella (7), two sisters and a brother.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'