GEORGE NUUS - Adv. Donald Ackerman is nie net 'n bekende regsgeleerde van George nie, maar hy maak ook wyn in sy vrye tyd.
'n Groot eer het hom te beurt geval toe sy 2018 pinot noir (Sovereign of the Seas) onlangs aangewys is as een van die top-10-wyne in die Prescient-kompetisie.
Gedurende die week tree hy op as regsgeleerde, maar as hy die kans kry, maak hy wyn wat kenners gaande het.
Sy wynmakery kom al 'n lang pad. Ackerman kom oorspronklik van Vanderbijlpark in Gauteng en het later na Pretoria verhuis waar hy gewerk en studeer het. In 1990 het 'n vriend hom na 'n ete genooi. Dié aand het Ackerman 'n 1984 Allesverloren shiraz geproe en daar is die saadjie geplant. Hy wou meer uitvind oor wyn en het op die internet begin rondsnuffel. Hy het ook 'n wynproekursus gedoen en eksamens afgelê.
In 2001 het hy Kaap toe verhuis. "Vir iemand wat in wyn belangstel was die Kaap soos 'n utopie," het hy vertel.
In 'n stadium het hy 'n kantoor langs Pierre Rabie gehad. Rabie het geweet hy gaan elke Woensdag na 'n wynproegeleentheid en wou by hom weet of hy nie belangstel om sy eie wyn te maak nie. Rabie het hom voorgestel aan 'n vriend van sy pa, Johan de Kock, wat naby Bredasdorp wyn gemaak het.
Uiteindelik het hy druiwe by De Kock gekoop en dié het ook as mentor vir hom opgetree vir sy wynmakery.
In 2013 het Ackerman shiraz-wyn gemaak. Hy het dit in vate gegooi en later aan iemand verkoop wat dit gebottelleer het. Die man het vir 'n kompetisie ingeskryf en 'n prys daarmee gewen. Intussen het Ackerman ook 'n deeltydse wynmakerskursus by die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
In 2016 het hy en sy vrou, Urice, na George verhuis. Hier het hy 'n wynpoe-geleentheid aangebied en met Nico Fourie van Herold Wines gesels. In 2017 het hy druiwe by hom gekoop en in 2018 is die pinot noir gemaak. Dit was die eerste keer dat hy heeltemal op sy eie wyn gemaak het.
Hy het dit vir 20 maande in twee 300 liter Franse eikevate verouder. Gewoonlik word dit net vir nege maande gedoen. Ackerman wou die wyn meer "lyf" gee en dit "intens" maak. Dit het die gewenste uitwerking gehad.
Hy bemark dit onder die naam Flying Cloud. Dis die naam van 'n skip wat in 1851 in Boston Amerika te water gelaat is en destyds regoor die wêreld gevaar het.
Die wyn is ingeskryf vir die Prescient-wynkompetisie en vroeg in September is die uitslag bekendgemaak. Dit was onder die toptien en sal vroeg in Oktober in die handel beskikbaar wees.
Hy geniet wynmakery en sy leuse is eenvoudig: "A passion for excellence" - want die wyngebruiker verdien dit. En dié wynmaker leef dit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'