SUID-KAAP NUUS - Die burgerregte waghond, AfriForum het onlangs 'n veldtog van stapel gestuur waarmee staatsamptenare aangemoedig word om enige korrupsieverwante klagtes by sy teenkorrupsie-eenheid aan te meld.
Die organisasie het ook 'n nuwe webtuiste (www.stopkorrupsie.co.za) begin waar korrupsie aangemeld kan word.
"Korrupsie is 'n ernstige bedreiging vir ons land se toekoms en het dus 'n uitwerking op elke landsburger. Dikwels beïnvloed dit diegene wat finansieel die swaarste trek die ergste," sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.
Taute sê verder sy glo vas dat daar staatsamptenare is wat die regte ding sal doen en korrupsie sal aanmeld, sou dit in hul onderskeie departemente kop uitsteek.
'n Bemarkingsveldtog is begin om staatsamptenare aan te moedig om korrupsie aan te meld. Taute gee die versekering dat AfriForum seker sal maak dat staatsamptenare wat inligting met die organisasie deel, beskerm sal word.
Die organisasie se teenkorrupsie-eenheid gaan ook strafregtelike klagtes teen korrupte staatsamptenare indien.
Sou die nasionale vervolgingsgesag (NVG) versuim om beweerde korrupte persone te vervolg, sal AfriForum se privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel die saak vir privaat vervolging oorweeg.
"Suid-Afrika het staatsamptenare nodig wat werklik 'n verskil wil maak om korrupsie te help hokslaan.
"Ons wil staatsamptenare aanmoedig om hande met ons te vat en saam met ons te sê, genoeg is genoeg," sluit Taute af.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'