Update
GEORGE NUUS - "Ek is gelukkig dat ek leef. Almal wat my motor gesien het sê ook so." Só sê raadslid Liza Stroebel ná sy Sondag 6 September betrokke was in 'n motorongeluk wat 'n ander vrou se lewe geëis het.
Stroebel was onderweg van Mosselbaai na haar huis in Heatherpark toe die ongeluk omstreeks 16:25 by die kruising tussen die R102 en die R404 plaasgevind het.
Sy en ses insittendes van die ander voertuig, 'n Corsa-bakkie, is met ernstige en minder ernstige beserings na die hospitaal geneem. Stroebel is sedertdien ontslaan en herstel tans tuis.
Magdalena Frans (57), die passasier wat langs die bestuurder in die Corsa gesit het, het egter aan haar beserings beswyk en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Teen druktyd kon George Herald nog nie daarin slaag om met Frans se familie kontak te maak nie.
Volgens Stroebel het sy by die kruising gestop en toe dit veilig was het sy die hoofpad (R102) oorgesteek. "Daar was geen verkeer in sig nie. Ek het die pad oorgesteek en toe ek aan Blanco se kant van die pad kom het daar skielik 'n Corsa-bakkie reg van voor, uit die rigting van Blanco, op my afgepyl," vertel sy.
Die passasier wat voor langs die bestuurder van die Corsa-bakkie gesit het, is oorlede tydens die ongeluk. Die bakkie is ook afgeskryf.
Die impak was van so 'n aard dat die Corsa-bakkie Stroebel se Nissan Qashqai terug tot in die hoofpad gestoot het.
"Die lugsakke het ook dadelik ontplooi en toe ek besef ek word terug in die hoofpad gestoot het ek dadelik die handrem opgetrek. Gelukkig was daar geen ander voertuie betrokke nie," het Stroebel Dinsdagoggend gesê.
Metro-nooddienste het die ander insittendes in die Corsa-bakkie na die George-hospitaal geneem en Stroebel is deur ER24-paramedici na Mediclinic George geneem.
"Ek was in veilige hande en baie dankbaar vir die welwillendheid van lede van die publiek wat my bygestaan het. 'n Spesiale dankie aan ons onderburgemeester, Charlotte Clarke en haar man, vir die bystand tot die ambulans my weggeneem het," sê Stroebel.
Skade aan Stroebel se voertuig.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word 'n saak van strafbare manslag ondersoek.
"George-polisie het 'n saak van strafbare manslag geopen. Volgens inligting wat op die toneel bekom is het 'n Nissan en 'n Opel Corsa-bakkie reg van voor gebots. Ongelukkig is die passasier in die Corsa oorlede," sê hy.
Die ondersoek duur voort.
Emergency services on the scene.
Vorige artikel: Vrou sterf in ongeluk naby lughawe
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'