GEORGE NUUS - Die nood van diegene wat in plakkerskampe in Syferfontein en Rosedale woon, wat nie vir huise kwalifiseer nie, is verlede week in die George-raad aangehoor.
PBI-raadslid Virgill Gericke het 'n dringende mosie in die verband gedien, waarin hy die raad vra oor die toekoms van mense wat in informele nedersettings woon, en nie vir huise in die nuwe behuisingsprojek in Rosedale kwalifiseer nie.
Gericke het gesê hy word oorval deur navrae van inwoners wat die munisipale kantore besoek wat nie weet of hulle ingesluit is in die behuisingsprojek wat in Rosedale ontwikkel word nie. "Honderde leef in onsekerheid," het hy gesê.
"Daar is tans geen beleid wat gevolg word vir die plasing van hierdie mense, of om oorbevolking in huise aan te spreek nie."
Gericke se versoek om 'n dringende werksessie is toegestaan en die speaker, Gerrit Pretorius, het onderneem om dit spoedig te laat geskied. "Ons vertrou dat hierdie werksessie ten doel sal hê om al hierdie probleme aan te spreek en alle mense oor kleurgrense heen te help," het Gericke gesê.
Charlie Williams van die ANC het die mosie ondersteun en gevra dat Thembalethu ingesluit word.
Sestien plak saam
Hy het 'n voorbeeld gegee van oorbevolking in klein huisies waar tot 16 mense in 'n tweevertrek-plakkershut woon en gevra hoe die raad hierdie mense kan help. Sommige mense was voorheen getroud, maar het intussen geskei, nou verskyn hul name steeds op die titelaktes. In ander gevalle kwalifiseer mense nie volgens die subsidievoorwaardes nie.
Ander het hul huise verkoop en geëindig in 'n plakkerskamp, terwyl sommige se inkomste die maksimum van R3 500 oorskry en hulle dus nie kwalifiseer vir 'n huis nie. "Hierdie mense is ook nie in 'n posisie om lenings by finansiële instellings te maak nie," het Gericke gesê.
Mercia Draghoender van Good het die mosie teengestaan om sodoende 'n debat te open. Charlie Williams van die ANC het die mosie ondersteun en gevra dat Thembalethu ingesluit word. Beide Williams en Gericke het hul uitgespreek teen die vermeerdering van plakkerskampe en die onwettige besetting van grond.
Gericke het gesê die raad moet 'n beleid saamstel in lyn met 'n onlangse uitspraak van die grondwetlike hof dat mense wat uitgesit word nie net sonder meer op straat kan beland nie. "Daar is 'n verpligting om hierdie mense te help."
PBI-raadslid Virgill Gericke. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'