Maar 'n groep plaaslike fietsryers het so pas dié afstand van 1 200 km binne 47 uur "afgevlieg" - en dit om die kollig op diabetes, oftewel suikersiekte, te laat val en terselfdertyd geld in te samel om minderbevoorregte kinders te behandel wat met dié chroniese siekte sukkel.
Dié "Changing Diabetes Cycle Challenge," van Johannesburg na George, is deur 'n plaaslike geneesheer, dr. Jacques van Staden, geïnisieer.
Twaalf fietsryers uit die Suid-Kaap, wat almal deel is van sy Cycle4Diabetes-span (C4D-span), het saam met nog vier ryers van Gauteng op die ononderbroke toer weggespring. Onder hulle was die oud-Springbok-losskakel Joel Stransky.
Buiten vir 'n haelstorm wat die groep inderhaas vir sowat 20 minute skuiling laat soek het in die ondersteuningsvoertuie, het die bewusmakingstoer uitstekend afgeloop, sê Jacques. "Tewens, so goed dat ons reeds Vrydag-aand op Oudtshoorn aangekom het - tien uur te vroeg!"
Die sestienstuks het George Saterdag, onder begeleiding van DA-raadslede Bevin Fortuin, Onderburgemeester Daniël Ma-ritz, Iona Kritzinger en Gert Niehaus, binnegery tot by die Garden Route Mall waar vriende en familie die ryers by 'n markiestent ingewag het.
Jacques sê die organisering van die toer was fenomenaal. Die fietsryers het byvoorbeeld nooit nodig gehad om by enige verkeerslig te stop nie en hulle kon voluit konsentreer op die trappery. "Sulke ondersteuning maak dit wel die moeite werd en ek sal dit enige tyd weer aanpak."
Die C4D-span samel jaarliks geld in om 16 minderbevoorregte kinders, hoofsaaklik uit die Suid-Kaap, met insulien te behandel. Die koste hiervan per maand beloop tussen
R4 000 en R5 000, bykans R50 000 per jaar om dus na die kinders om te sien. Al die ander dienste, soos vervoer en nasorg, word gratis deur vrywilligers gedoen.
Jacques sê nog 'n voordeel van dié projek is dat dit 'n belowende fietsryer soos Danzil Afrika van Oudtshoorn die ideale platform bied om sy drome en ideale te verwesenlik.
Danzil het op 15-jarige ouderdom begin fietsry, maar ná skool as werklose gesukkel om kop bo water te hou én boonop fietsry as sportsoort te beoefen.
Sy paaie het met dié van Jacques gekruis, wat hom 'n plek in die C4D-span aangebied het en hom ook gehelp het om toerusting aan te koop.
Danzil se fietsryloopbaan het van daar af behoorlik vlamgevat en hy kon met die prysgeld wat hy in wedrenne losgejaag het vir hom 'n inkomste genereer. Belangrikste egter, is dat hy hom voltyds op sy fietsryloopbaan kan toespits.
Jacques sê deur fietsry kan C4D bewustheid oor diabetes by mense verhoog en bewys suikersiektelyers kan 'n normale lewe lei deur die siekte reg te bestuur en die regte behandeling te kry.
Danzil se visier is nou gemik op die Tour de France, die grootste en uitdagendste toer ter wêreld.

Die C4D-span saam met die raadslede, familie en van die kinders wat vir diabetes behandel word. Foto: Hugo Redelinghuys
ARTIKEL EN FOTO: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-JOERNALIS