GEORGE NUUS - Die hofsaak waarin 'n prominente sakeman van George daarvan aangekla word dat hy sy vriendin se vyfjarige seuntjie met 'n houtlepel geslaan het, is Dinsdag 18 Julie, vir 'n tweede keer, in die George-landdroshof tot 21 Augustus vir mediasie uitgestel.
Volgens die biologiese pa het hy sy kinders vir 'n naweekbesoek opgetel toe hy erge blou merke op sy jongste se boude opgemerk het. Die merke was van so 'n aard dat die pa genoodsaak was om 'n plaaslike dokter te besoek.
Die merke was blykbaar 'n week na die voorval steeds sigbaar. 'n Saak van gewone aanranding is by die George-polisie geopen en die verdagte se eerste verskyning was op 9 Junie. Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die aanklag bevestig.
*Die name van die beskuldigde en ouers van die kind is aan die George Herald bekend, maar word weerhou om die minderjarige kinders se identiteite te beskerm.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'