GEORGE NUUS - Die Outeniqua Power Van het byna sy deure permanent gesluit weens die inperking, maar komende Maandag, 21 September, gaan die rooi waentjies weer die spore na Groot-Brakrivier laat sing.
Volgens die operateur, Nicol Marais, het dit broekskeur gegaan. "Veral ook ná al die terugslae van 2018 se bergbrande en die sabotasiedreigemente teen Transnet se eiendom, maar ons het oorleef."
Gedurende verlede jaar se Desember-seisoen het ontevrede Transnet-kontrakwerkers die spoorlyn tussen George en Groot-Brak verskeie kere plek-plek toegepak met betonblokke of planke en selfs gedeeltes van die spoor verwyder.
Marais is ook opgewonde oor die vooruitsig om hulle ritte op die George-Oudtshoorn-lyn binnekort te hervat. Herstelwerk aan die treinspoor op hierdie roete het einde Augustus begin. Die spoor is onbegaanbaar nadat dit erg beskadig is in die verwoestende brande aan die einde van 2018. Herstelwerk sou al in Augustus 2019 voltooi gewees het, maar is volgens Transnet vertraag weens toerusting wat gebreek het.
Dit was 'n groot slag vir die Power Van, wat daarna slegs die Groot-Brak-roete kon bedien - totdat inperking ook dít verhoed het.
Mike Asefovitz, uitvoerende bestuurder van kommunikasie by Transnet, het by navraag gesê hul onderhoudsafdeling sal die werk aan die bergroete na verwagting binne vier maande voltooi. Die geraamde heropening is 30 November.
Rovos Rail en 'n vragtrein gebruik ook hierdie roete.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'