GEORGE NUUS - As dierekinders kon praat, sou hulle baie dankie gesê het vir die ruimhartigheid van mense sovêr as Port Elizabeth, wat die afgelope naweek van 5 en 6 Junie, deelgeneem het aan Wiele vir Liefdadigheid se jaarlikse Pote in Nood-veldtog. Die veldtog word ten bate van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) gehou.
Die hoofgeleentheid was Sondag 6 Junie, maar is voorafgegaan deur 'n Ride out Africa-opleidingsdag. Tydens die geleentheid by Outeniqua-rolbalklub, het motorfietsentoesiaste wenke ontvang van motorfietslegendes Chris Meyer en Chantel Blake-Visser.
Deelnemers het ook kos vir diere aan Odin geskenk. Daar was 80 inskrywings om deel te neem aan die gratis motorfietsvaardigheidopleiding.
Van skuins na 10:00 Sondagoggend het talle mense begin saamkom in die parkeerarea voor die Engen Eco Stop op die N12 naby Virgin Active vir die hoofgeleentheid.
Daar was omtrent 100 voertuie, insluitend 4x4’s, V8’s en ’n groot hoeveelheid motorfietse, asook privaat voertuie. Streng Covid-19-regulasies het gegeld.
Anton Meyer (links) stigter en hooforganiseerder van die Wiele vir Liefdadigheid se jaarlikse Pote in Nood-veldtog, saam met Chris Meyer, motorfiets legende Sondag kort voor die vertrek na Oudtshoorn.
Kort na 11:00 het die motorfietse en voertuie met die Outeniquapas langs vertrek tot by die Pick n Pay-parkeerarea in Voortrekkerstraat, Oudtshoorn. Vandaar is hulle in ’n konvooi gelei deur Oudtshoorn verkeer, na Odin-diereskut net buite die dorp.
Die dag se borge het hul kant deeglik gebring met fantastiese pryse vir die gelukstrekkings.
Colleen Smith, wat in beheer van Odin is, het genoem dat hulle jaarliks met opwinding wag vir die Pote in Nood-geleentheid, wat hulle baie help met die sorg vir die behoeftige diere in die skut in Oudtshoorn, asook in George.
Anton Meyer, stigter en hooforganiseeder, tesame met sy vrou Leigh-Anne, het na afloop van die geleentheid gesê dit was 'n groot sukses. Dit was die sewende jaar van ons die gewilde geleentheid hou en die vierde jaar vir Odin. Die Pote in Nood-geleentheid groei jaarliks in gewildheid.
"Wat 'n puik opkoms van voertuie en motorfietse. Die Vader het ons geseën met 'n mooi sonskyndag en engel-mense wat deel van die dag was," het Meyer vertel. Deelnemers het nie teruggehou met bydraes nie en 'n baie groot hoeveelheid kos is aan Odin oorhandig.
Van die motorfietsryers Sondag kort voordat hulle van George na Oudtshoorn vertrek het.
'n Totaal van R10 400 kontant is ook ingesamel waarvan R1 500 oorhandig is vir Odin se kontantuitgawes. Die res van die geld, naastenby R9 000, gaan gebruik word om kos vir die diere te koop en sal dan by Odin afgelewer word.
Meyer het almal bedank wat gehelp het om 'n sukses van die geleentheid te maak. Dit maak 'n groot verskil aan die lewens van die dierekinders. "Dit bly ons as mense, se plig om na hulle te kyk, onvoorwaardelik. Soos elke jaar, maak ons in ses maande weer so. Besonderhede van die volgende geleentheid sal binnekort beskikbaar wees."
Meyer het gesê dit was die eerste keer dat Sondag se geleentheid voorafgegaan is deur die Ride out Africa-opleidingsdag. Dit was so 'n groot sukses dat die organiseerders besluit het om die opleidingsdag, jaarliks voor die Pote in Nood-geleentheid aan te bied.
Van die kos wat geskenk is. Foto's: Eugene Gunning
If animals could talk they would have said a big thank you the past weekend to people as far as from Port Elizabeth that took part in the Wiele vir Liefdadigheid annual Pote in Nood-veldtog that was to the benefit of Oudtshoorn Dogs in Need (Odin). The main event was on Sunday 6 June when amongst other several motorbike riders travelled to Oudtshoorn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'