GEORGE NUUS - Die SA Poskantoor sê kliënte wat Kerspakkies na ander lande wil stuur, moet dit so gou moontlik doen.
Dit geld veral vir kliënte wat seepos wil gebruik om Kersgeskenke te stuur.
"Die poskantoor is grootliks op datum met die versending van pakkette na ander lande, maar die pakkette gaan deur klaringsprosesse in die land van aankoms," sê Martie Gilchrest, kommunikasiebeampte.
Items wat litiumbatterye bevat mag nie met lugpos gestuur word nie. Kliënte moet dus seker maak dat hulle nie ‘n item met sulke batterye in pos nie. "Alle lugpositems word met x-strale bekyk om seker te maak wat die inhoud is, en die items word dan met seepos gestuur."
Lugpositems moet op die laaste op 1 Desember gepos word.
Vir see- en landpos moet pakkies nie later as die datums hieronder gepos word nie:
- Tristan da Cunha, Ascension en St Helena – nie later as 31 Oktober nie. Pakkies na Australië, Noord- en Suid-Amerika, die Verre Ooste en Asië moet ook teen 31 Oktober gepos word.
- 31 Oktober is ook die laaste datum vir die versending van items na Brittanje, Europa en die Midde-Ooste.
- Pakkies vir eilande in die Indiese Oseaan – die Seychelle, Comoros, Mauritius en Réunion – moet teen 27 Oktober gepos wees.
- Vir Afrika – die Ivoorkus, Ghana, Kongo, Demokratiese Republiek van die Kongo, Senegal, Kameroen, Nigerië, Gabon, Kenia, Tanzanië, Uganda, Burundi, Rwanda, Madagaskar, Angola, Malawi, en Zambië– is die laaste datum 1 Desember. Slegs lugpos is na dié lande beskikbaar.
- Items vir lande wat aan Suid-Afrika grens moet teen 8 Desember gepos word. Dié lande is Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Swaziland en Zimbabwe.
Maak seker jou pakkie kom veilig anderkant:
- Verpak die items in ‘n stewige houer – dit word in groot massahouers vervoer.
- As jou item nie sy pakkie volmaak nie, kan jy die leë ruimte volmaak met skokabsorberende material soos papiersnippers of polistireen.
- Maak seker die items wat jy stuur is wettig in die land van aankoms. Dier- en plantmateriaal kan in die meeste lande nie sonder ‘n permit ingevoer word nie.
- Skryf die woord “Gift” duidelik op die pakkie. Dit bespoedig doeaneklaring.
Die volgende items mag nie gepos word nie:
- Items met lithiumbatterye mag nie met lugpos gestuur word nie.
- Onwettige items soos dwelms.
- Items wat kan uitlek en ander pakkies beskadig, soos vloeistowwe. Dit sluit velroom in.
- Items wat in die vliegtuig kan ontplof of ontbrand, soos aerosols of vlambare vloeistowwe.
- Diere- en planteprodukte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'