GEORGE NUUS - Plaaslike lede van die Police and Prisons Civil Rights Union (Popcru) is ongelukkig oor die salarisverhoging van 7% wat onlangs deur dié unie goedgekeur is. Lede eis 'n verhoging van 12%, maar die onderhandelinge is reeds op nasionale vlak gefinaliseer en volgens plaaslike Popcru-lid, Frank Goliath, is dit geldig vir die volgende drie jaar. Boonop is daar ontevredenheid omdat Popcru se president, Zizamele Cebekhulu, nie 'n onlangse plaaslike Popcru-vergadering bygewoon het nie.
Die vergadering is op Dinsdag 5 Junie by die George-gevangenis gehou, maar het kort voor lank kookpunt bereik en Popcru-bestuurslede is deur plaaslike lede van die unie van die perseel gejaag.
Die geleentheid is daarna by die polisie se Eden-gebiedskantore voortgesit. "Wie dink hulle is hulle om namens ons te besluit? Dis ook nie net die 7% waaroor ons ongelukkig is nie, maar Popcru se president, Zizamele Cebekhulu, sou met ons kom praat oor kwessies waarvan hy reeds 'n geruime tyd bewus is. Hy het nie eers opgedaag nie," het Goliath aan die George Herald gesê. Goliath sê ook daar was byna geen van die kwessies wat op die agenda aangebring is, bespreek nie. "Hulle kon ook nie vir ons 'n geldige rede gee hoekom die president nie met ons kom praat het nie."
Popcru lewer kommentaar
Volgens Popcru se mediawoordvoerder, Richard Mamabolo, is hulle besig met landswye vergaderings ter voorbereiding vir die nasionale optog in Pretoria op 13 Julie, waar memorandums oorhandig sal word. "Oor die kwessie van loononderhandelinge is dit belangrik om daarop te let dat tydens vergaderings daar aan die lede terugvoer gegee word oor die ondertekende ooreenkomste van die openbare sektor. Sommige lede word mislei deur te dink dat Popcru die 7% onderteken het sonder om aan baie ander faktore wat werkers sal bevoordeel, te dink," sê Mamabolo.
Plaaslike Popcru-lid, Frank Goliath.
By navraag het hy ook aan die George Herald gesê dat hulle graag daarop wys dat hierdie onderhandelinge 'n baie groot uitdaging was. "Die regering het die mag om te onderhandel opgeveil tussen graderingsagentskappe en leningsinstansies. Dit het gelyk asof hulle die onderhandelinge indirek beïnvloed deur dreigemente van 'n afgradering. Hulle het ook gesê dat hoër as verwagte lone kan bydra tot die regering se skuldlas."
"Popcru is aanspreeklik vir sy lede. In enige organisasie tree daar soms verskille in wat kan uitloop op hewige argumente, maar dit beteken nie noodwendig dat dit op kwaai vriendskappe uitloop nie."
Oor die kwessie dat die president nie die vergadering bygewoon het nie, het Mamabolo gesê dat hulle nog in die eerste fase is om lede van die beplande optog te verwittig. "Alle nasionale ampsdraers sal vroeg in Julie die provinsies besoek."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'