Die sakeman, wat anoniem wil bly het die afgelope Maandag omstreeks 14:30 in sy kantoor in die George industriële gebied gesit toe hy twee verdagte mans oor 'n heining by 'n aangrensende besigheid sien klim.
"Hulle het 'n groot voorwerp by hulle gehad en in 'n winkelstootwaentjie gelaai. Toe hulle in die rigting van 'n skroothandelaar beweeg, het ek en twee van my werknemers in my motor geklim, hulle agterna gesit en gestop."
Hy het aan die George Herald gesê die verdagtes het toe die gesteelde eiendom net so gelos en laat spaander, waarna hy die polisie se noodnommer, 10111 geskakel het. "Die dame het onmiddellik die telefoon geantwoord en in my huistaal, Afrikaans my besonderhede en presiese posisie afgeneem en my telefoonnommer gevra. Sy het ook haar belofte om onmiddellik hulp te ontbied gestand gedoen, want binne enkele oomblikke was die polisie op die toneel waar die mans tussen die huise probeer wegkruip het."
Die verdagtes is in hegtenis geneem en die gesteelde goedere, wat 'n lugdrukopwekker se masjien en onderdele ingesluit het is teruggevind en aan die regmatige eienaar terugbesorg. Die waarde van die eiendom beloop ongeveer R30 000.
Die sakeman het aan die George Herald gesê hy kan nét met lof van die polisiemanne wat die verdagtes in hegtenis geneem het praat. "Kaptein Stander en konstabels Prins, Potts en Appels se optrede was uiters professioneel en hulle is voorwaar 'n aanwins vir die polisie," het die sakeman gesê.

Die Conville-polisie is geprys vir hulle flink diens. Van links is kapt. Stander en konstabels Potts, Appels en Prins.