GEORGE NUUS - Pacaltsdorpers gaan nóg langer moet wag voor beloofde uitbreidings aan hul kliniek gaan plaasvind.
Na verskeie vertragings in die projek sou die kontrakteur in die tweede helfte van vanjaar begin met die bouwerk.
Die projek is egter met nog 'n klompie maande vertraag en is nou geoormerk om teen die einde van die tweede kwartaal van die 2022/23-boekjaar te begin.
Inwoners wat die besoek van die provinsiale minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, verlede Donderdag by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal bygewoon het, wou antwoorde hê, maar bitter min inligting is bekom.
'n Inwoner het aan die media uitgewys dat dieselfde minister twee jaar gelede die beloofde uitbreidings tydens 'n funksie in Pacaltsdorp aangekondig het.
Mbombo het egter nie hierdie keer die inwoners self oor die vertragings toegespreek nie, maar 'n amptenaar van die distriksmunisipaliteit gevra om die stand van sake in Afrikaans oor te dra.
Pacaltsdorp-kliniek. Foto: Michelle Pienaar
Eugene Engel, adjunk-direkteur professionele ondersteuningsdienste by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het gesê dat die tender verstryk het en dat, aangesien die finansiering vir die projek van die nasionale departement van gesondheid kom, die provinsie en distrik nie self tydlyne rakende die projek kan bevestig nie.
Valerie Muller, die voorsitter van die Pacaltsdorp-kliniek se komitee, het probeer om verdere duidelikheid oor die aangeleentheid te bekom met nog vrae oor die projek. Mbombo het egter dié vrae in die kiem gesmoor.
Valerie Muller, die voorsitter van die Pacaltsdorp-kliniek se komitee, het probeer om verdere duidelikheid oor die aangeleentheid te bekom met nog vrae oor die projek.
Pad vorentoe
Aangesien die beplande uitbreiding van die Pacaltsdorp-kliniek 'n inisiatief van die nasionale departement van gesondheid is, is medianavrae oor die aangeleentheid na Ayanda Dakela, die hoof van gesondheid en infrastruktuurbestuur by die nasionale departement verwys.
Dakela het die volgende terugvoer gegee:
Die tender vir die uitbreiding van die kliniek is voor die Covid-19 pandemie geadverteer en fondse moes weens die pandemie na Covid-19 projekte herlei word. Die geldigheidsperiode van die tender het gedurende hierdie tydperk verstryk.
Die projek is nou oorgegee aan die onafhanklike ontwikkelingstrust (Independent Development Trust - IDT) vir implementering.
Die geprojekteerde begroting vir die projek is R19 miljoen. Die projek is geoormerk om te begin teen die einde van die tweede kwartaal van die 2022/23-boekjaar.
Inwoners wat die kliniek besoek staan gereeld buite in 'n ry en wag om gehelp te word.
Pacaltsdorp-kliniek. Foto: Michelle Pienaar
Lees meer oor Mbombo se besoek hier: MEC for Health in George, SC
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'