GEORGE NUUS - Geleenthede val nie in jou skoot nie, so as dit aangebied word, gryp dit met albei hande. Dis wat 'n groep werklose jeug van George gedoen het toe hulle die geleentheid kry om 'n gratis sekuriteitskursus te doen. Die eienaar van 'n plaaslike sekerheidsmaatskappy, Lourens van der Spuy, het die kursus aangebied.
"Dis die tweede keer wat ek dit doen. Die vorige keer het ek in die George Herald geadverteer. Die suksesvolle kandidate is aangestel nadat hulle by Psira geregistreer is."
Van der Spuy sê daar is baie jong mense wat nie 'sekerheid' verstaan voordat hulle die opleiding ontvang het nie. "Met my betrokkenheid by die buurtwagte het ek die nodigheid gesien vir sulke opleiding. Finansies speel ook 'n groot rol in die minderbevoorregte woonbuurte. Die kursusse kos geld en ouers het nie altyd daardie geld nie."
Volgens hom verlaat baie jong mense skool en kan nie bekostig om te studeer nie.
'n Kort en goedkoop kursus is soms die beste manier om 'n werk te bekom, wat weer later ander voordele bied, meen hy.
Reegan Tee, Celenta Draghoender, Elistine Draghoender, Ruwayden Samson, Riaan Grootboom, Lionel Botha, Kenneth Ouwies, Enrico Stalmeester, en Micheal Stupa het hul sekerheidskursus suksesvol voltooi.
Van der Spuy sê registrasie is egter 'n proses omdat elke persoon se vingerafdrukke geneem word om seker te maak dat hulle nie 'n misdaadrekord het nie. "Hulle kursusuitslae is beskikbaar. Ons wag vir hul vingerafdrukke, dan stuur ons dit na Psira vir registrasie. Alles is 'n proses."
Die mense was gewillig om die kursusse te doen met die voorwaarde wanneer hulle klaar geregistreer is, hulle vir 'n sekere tydperk vir Van der Spuy se maatskappy werk.
"Ek hou daarvan om te help. Ek het geleer wat jy insit sal jy uitkry."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'