GEORGE NUUS - Daar is groot belangstelling in die gesellige plek wat die ou tolhuis in Montagupas geword het onder die sorgsame hande van die Vriende van die Tolhuis.
Tydens die vakansie daag mense in groot groepe op om die jongste skenkings (meubels en voorwerpe uit ouma se tyd) gade te slaan terwyl hul koffie en pannekoek geniet. Met skenkings vanuit die gemeenskap het die monument 'n huislike voorkoms aan die binnekant gekry.
Volgens Gerda Stolz van die Vriende van die Tolhuis word daar tans gewag op die nodige goedkeuring vanaf die departement van openbare werke om 'n skuiling te bou vir die perdekar wat aan die tolhuis geskenk is. Intussen gaan die Vriende van die Tolhuis voort om geld in te samel vir die bou van ablusiegeriewe.
Die tolhuis is in 1845 gebou en is in 1971 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die struktuur was vervalle en is gered van totale ondergang deur die Vriende van die Tolhuis.
Die Wes-Kaapse se Erfenis Raad het toestemming gegee vir die restourasie. 'n Skenking vir die gebruik van 'n lae bed sleepwa sal verwelkom word sowel as 'n vraghouer of klein houthuisie om gereedskap in te bêre.
Vir navrae en besprekings om 'n praatjie by te woon (slegs 40 mense kan geakkommodeer) skakel Gerda by 083 772 8252.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'