Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Saterdagoggend, 7 Julie, het op 'n somber noot begin nadat 'n perd omstreeks 06:45 in Beachweg, Pacaltsdorp, omgery is.
Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) inspekteur, Gerda Rynders, is na die toneel ontbied. Volgens Rynders was dit 'n onaangename ondervinding. "Die perd was 'n jongerige hings en het nog geleef toe ek op die toneel aankom, ek moes self die perd uit sy bitter lyding verlos." Volgens Rynders was daar nie 'n ruiter of eienaar naby die lydende perd in sig nie. Die karkas is later deur munisipale werkers verwyder.
Paulen Alaart, stigter van Pacaltsdorp Riding Club (PRC), het sy kommer uitgespreek oor die voorval. Alaart sê dis onaanvaarbaar dat daar persone is wat perde verwaarloos. Alaart maak die gemeenskap weereens bewus dat PRC nie die verwaarlosing en misbruik van perde duld nie.
In nog 'n voorval vroeër vanjaar, in Februarie, ook in Beachweg, was die gemeenskap geskok toe 'n 13-jarige seun ernstig beseer is en sy perd op die toneel gesterf het nadat hulle deur 'n motor getref is.
Teen druktyd was daar geen terugvoer van Pacaltsdorp-polisie oor die bestuurder of voertuig wat die perd omgery het nie.
"Die perd was 'n jongerige hings en het nog geleef toe ek op die toneel aankom, ek moes self die perd uit sy leiding verlos," sê Tuinroete-DBV inspekteur, Gerda Rynders.
Lees 'n verwante artikel: Tweede gesteelde perd dood
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'