GEORGE NUUS - 'n Perd wat in Julie vanjaar deur kinders in Pacaltsdorp gesteel en byna doodgery is, moes 'n week na dié voorval uitgesit word.
Volgens Frieda Jansen van Rensburg, bestuurder van die Garden Route-dierebeskermingsvereniging (DBV), het hulle die dier vir 'n week behandel en aan die lewe gehou voordat die veearts besluit het om hom uit te sit.
"Sy beserings was van so 'n aard dat die veearts nie 'n ander uitweg gesien het nie. Dit sou wreed wees om hom langer te laat ly."
Geen ooggetuies het na die voorval na vore gekom nie, dus is daar nog geen arrestasie gemaak nie.
Jansen van Rensburg sê die DBV het sedert Januarie reeds 60 voorvalle van mishandelde perde gehad.
"Dit is selde dat die publiek kinders op gesteelde perde sien omdat dié voorvalle gewoonlik in die nag en baie vroeë oggendure plaasvind. Teen die tyd dat iemand 'n perd as gesteel aanmeld, is die booswigte reeds weg.
"Bykans die helfte van die klagtes wat ons ontvang is van mense wat kinders sien perde ry sonder voldoende toerusting," sê sy. Dit sluit tuisgemaakte tooms van tou en stange van draad in.
Die DBV probeer perdediefstal bekamp deur die eienaars in te lig oor wat in hulle omgewing gebeur en hulle leiding te gee oor hoe om te werk te gaan om hul perde te beveilig.
"Ons is ernstig besig om aandag te gee aan die diefstal en mishandeling van diere. Indien iemand op heterdaad betrap word sal die persoon aangekla word. Eienaars word versoek om vermiste perde onmiddellik by die polisie en die DBV aan te meld.
"'n Perd se veiligheid berus steeds by die eienaar en as ons vind dat die eienaar nalatig was, sal die perd by ons bly tot die hof besluit of die dier na die eienaar kan teruggaan."
Volgens Jansen van Rensburg is die kinders in meeste van dié gevalle minderjarig. Daar is egter ‘n wetlike proses wat gevolg word wanneer minderjariges gevang word, en 'n dossier word oopgemaak ongeag hul ouderdom.
Indien enigiemand op 'n geval van dieremishandeling afkom, word hulle sterk aangemoedig om dadelik die DBV by 044 878 1990 of 082 378 7384 te skakel.
"Hulle kan ‘n video neem wat die persoon se gesig duidelik wys. Dit kan deel van die saak vorm en as bewysstuk gebruik word. Mense moet ons asseblief hiermee bystaan en ‘n verklaring by die polisie aflê," sê sy.
* A horse stolen and nearly ridden to death by children in July this year, had to be euthanized a week after the incident.
According to Frieda Jansen van Rensburg, manager of the Garden Route SPCA, they treated the horse for a week before the vet decided that they could not heal the animal's suffering.
"His injuries were such that the veterinarian did not see another way out. It would've been cruel to keep him alive for longer."
No eyewitnesses reported anything after the incident and no arrests have been made.
Jansen van Rensburg says the SPCA has already had 60 incidents of abused horses since January.
"It is rare for the public to see children on stolen horses because these incidents usually occur at night and very early morning hours. At the time someone reports a stolen horse the offenders are already gone.
"Almost half of the complaints we receive are from people who see children riding horses without adequate equipment,"she says. This includes using ropes as bridals and pieces of wire as bits.
ARTIKEL EN FOTO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'