TUINROETE NUUS - Parkeermeters op 'n ongewone plek trek baie aandag. Boonop word die 'parkeergeld' vir 'n goeie doel gebruik.
Die parkeermeters is op die erf van 'n huis in Kusweg, Rheebok, en baie naby aan die sypaadjie. Van die mense wat al daar parkeer het, het 'parkeergeld' in die meters gegooi.
Die eienaars van die huis, Coenraad en Andrea, het die parkeermeters sowat 'n jaar en 'n half gelede gekoop.
Hulle kom van Pretoria en die huis in Kusweg is 'n uitspanplek. Volgens Coenraad het hy dit vir humoristiese redes aangebring. Hulle het die drie parkeermeters by iemand in Randfontein in Noordwes gekoop en besluit om dit by hul vakansiehuis aan te bring.
Hy ken nie die geskiedenis van die meters nie, maar dit is waarskynlik voorheen deur 'n munisipaliteit gebruik. Die meters werk nog en is aangepas om R2 muntstukke te kan gebruik. Voorheen het dit 10c en 5c muntstukke gebruik.
Dit trek baie aandag en mense ry soms stadiger om daarna te kyk. In die verlede het mense soms op die sypaadjie geparkeer en hy het besluit om as 'n grap die meters aan te bring. Van die mense het toe geld in die meters begin gooi. Hy skenk gewoonlik die geld vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV).
Nadat hy die meters aangebring het, parkeer mense nie meer so baie daar nie, het Coenraad gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'