GEORGE NUUS - Inwoners van Pacaltsdorp is bereid om te baklei vir hul verborge juweel, Gwaiingriviermond.
Braam America, woordvoerder van die Gwaiingrivier-aksiegroep wat die erfenis van Pacaltsdorp wil beskerm, sê hulle is reeds sedert 2013 in gesprek met die George-munisipaliteit oor dié gebied.
"Na sprake van moontlike privaat ontwikkeling het ons besluit om oor die toekoms van die strandgebied met die plaaslike owerhede te praat," het hy Sondagmiddag 22 Julie tydens 'n byeenkoms by die strand aan die George Herald gesê.
Besorgde lede van die Pacaltsdorp-gemeenskap het hier byeengekom om die toekoms van die strand te bespreek.
"Ons is daarvan bewus dat ons land uitgebreide erfenisbewaringswetgewing het, maar die toepassing daarvan is die probleem. Deesdae wil dit voorkom asof politiek en ekonomie die spil is waarom die wêreld draai.
"Vir ons is erfenis en identiteit nét so belangrik. Sonder 'n erfenis verloor 'n volk sy identiteit," sê hy.
Braam America, Urwin da Silva en Virgill Gericke in gesprek verlede Saterdag by die Gwaiingriviermond. Foto's: Kristy Kolberg
"Ons verwelkom opgradering, maar ons vra dat die plaaslike gemeenskap geken word in besluite wat gemaak word ten opsigte van Gwaiing."
Aksiegroep se eise
Die groep eis dat die gemeenskap in alle verbeteringe by die strandgebied geken moet word en dat enige privaat ontwikkeling sterk teengestaan sal word. Verder versoek hulle ook dat die opsigter van die kampeerterrein uit die Pacaltsdorp-gemeenskap aangestel moet word en in die huis op die perseel bly.
Die groep wil ook hê dat die munisipaliteit die beloftes, wat tydens 'n vergadering op 16 Desember 2017 gemaak is, sal nakom.
Oom Solly Rhode, het hom sterk uitgelaat oor die manier waarop die munisipaliteit die gemeenskap misken.
Volgens America het die munisipaliteit onderneem om geriewe op te knap. "In daardie stadium was R500 000 bewillig in die ou finansiële boekjaar 2017/8. Die res sou in die 2018/9 boekjaar geskied," sê hy.
Verder vereis hulle dat die grondpad tussen Hansmoeskraal en Pacaltsdorp geteer moet word soos met 'n vorige ontwikkelaar ooreengekom is.
Terugvoer van die munisipaliteit
George-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, sê die munisipaliteit het op 10 April 'n openbare vergadering gehou om die toekoms van die Gwaiingriviermond-oord met die gemeenskap te bepreek.
Die vergadering is bygewoon deur lede van die gemeenskap en het die raadslede van al die relevante wyke ingesluit.
Ally Johnson se familie het ook grond op Hansmoeskraal.
Twee fases van opgradering
"Fase een van opgraderings, die area vir dagbesoekers en kampterrein, behoort in hierdie finansiële jaar klaar te wees. Die tweede fase, die swembad en restaurant, sal opgegradeer word wanneer geld hiervoor beskikbaar is," sê Hendricks.
Hoewel daar tydens die vergadering ontwikkeling op 'n oop stuk grond op die oord voorgestel is, is daar tans geen onmiddellike planne daarvoor nie.
"Die George-munisipaliteit verstaan die hartswaarde wat Gwaiing vir die gemeenskap het en sal dit respekteer. Indien enige privaat ontwikkeling oorweeg sou word, sal enige voorgestelde ontwikkeling op grond wat onontwikkel is eers deur 'n lang aansoekproses moet gaan, wat onder andere konsultasie met die gemeenskap insluit," sê Hendricks.
Die Gwaiingrivier-aksiegroep wil die erfenis van Pacaltsdorp beskerm.
Daar is by die vergadering aan die mense verduidelik dat die oorspronklike Le Grand-ontwikkeling gelikwideer is en dat dit hoogs onwaarskynlik is dat enige eis teen die boedel genoeg geld sal genereer om die pad te teer.
Lees die Munisipale volle kommentaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'