GEORGE NUUS - Die sakegemeenskap van Pacaltsdorp het onlangs in getalle opgeruk na ‘n gemeenskapsvergadering wat gesien kan word as ‘n nuwe hoofstuk in die dorp se geskiedenis. Meer as 120 inwoners, waaronder verskeie leiers vanuit die breë gemeenskap, het op 8 Oktober die stigtingsvergadering van die Pacaltsdorp-gemeenskapsforum bygewoon en eenparig hulle steun toegesê aan die inisiatief.
Luidens 'n persverklaring wat deur die forum uitgereik is, is belangrike besluite wat ‘n bepalende invloed kan hê op die dorp se toekoms, by hierdie vergadering geneem.
"Die verskillende gemeenskapsorganisasies, sakeleiers en entrepreneurs, die twee sakekamers asook talle inwoners het hulle daartoe verbind om ‘n breë sambreelorganisasie te stig wat verteenwoordigend sal wees van die hele gemeenskap," lui die persverklaring.
Op die vergadering is ‘n interim bestuur gekies wat vir die volgende drie maande die verskillende strukture en portfolios van die forum sal vestig, en sal toesien dat al die wetlike en administratiewe aspekte rondom die stigting van die organisasie beslag sal kry. Daar is ook planne om met ‘n plaaslike prokureursfirma en ‘n rekenmeestersfirma te skakel om die forum te ondersteun.
Sekere, kort- medium- en langtermyndoelwitte is geïdentifiseer, en dit sal in die komende maande in die forum se Grondwet vervat word.
Die interim bestuur het hulle eerste vergadering op 15 Oktober gehou, waar die volgende lede tot die bestuur verkies is: Virgill Gericke (voorsitter), Joe Stoffels (ondervoorsitter), Blanche Klassen (sekretaris), Johnnie Rondganger (hulpsekretaris), Bonny Brink-Lawrence (projekkoördineerder) en Luwayda Tarentaal (tesourier). Die bykomende lede is, Jannie Horne, John Bruinders, Stephen de Klerk, Alice Johnson, Soafie Tool, Blanche Benjamin en Evelyn Scheepers.
Die sakegemeenskap van Pacaltsdorp by die stigtingsvergadering vroeër die maand.
Daar is ook aan elke bestuurslid ‘n spesifieke portfolio toegeken. So is daar portfolios vir die Pacaltsdorp-winkelsentrum, die sakekamers, grondsake, skakeling met die plaaslike owerhede, skakeling met die media, kultuur-aangeleenthede en toerisme asook jeugaangeleenthede.
Die forum wil graag al die plaaslike skole en kerke uitnooi om betrokke te raak by die inisiatief.
"Die bestuur het ook eenparig besluit om betrokke te raak by alle toekomstige ontwikkelings in Pacaltsdorp. In die verlede het baie individue en sekere organisasies onderhandel met ontwikkelaars en staatsinstellings onder die dekmantel dat hulle die gemeenskap verteenwoordig. Tydens die loodsvergadering is daar sterk ten velde getrek teen hierdie ongewenste praktyke, aangesien dit geweldige frustrasie, konflik en verdeeldheid in die gemeenskap veroorsaak het. Die hoop is uitgespreek dat hierdie ongewenste praktyk summier aan die kaak gestel sal word."
Die forum wil graag bestaande en voornemende entrepreneurs bystaan met opleiding, belastingaangeleenthede, CIDB-graderings en ander wetlike verpligtinge van formele besighede. Gereelde werksessies in die verband word in die vooruitsig gestel.
Die bestuur het ook die hoop uitgespreek dat daar in gesprek getree sal word met ander sakenetwerke in die Suid-Kaap.
Gericke het by navraag gesê: "Die inisiatief word uit verskeie oorde geloof en was lank uitstaande. Ons komitee bestaan uit persone van verskillende agtergrond, geloofsoortuiging, politieke affiliasie en kultuur.
"Pacaltsdorp as sendingstasie, met sy asemrowende natuurskoon, ryk geskiedenis en kultuur, is besig om te ontwikkel tot 'n geïntegreerde gemeenskap en toerisme dorp. Dit is dus vanselfsprekend dat die plaaslike gemeenskap direkte inspraak en deelname moet hê in die ontwikkeling van hul dorp. Die kwessie van grond en eienaarskap is 'n sentrale punt van debat.
"Daarom moet elke ontwikkeling die seën van die gemeenskap wegdra. As leiers moet ons verseker dat ons kinders en kinders se kinders integraal deel uitmaak van eienaarskap en 'n inklusiewe ekonomie, sowel as vennootskappe vestig met voornemende ontwikkelaars en beleggers.
"Ons hoop om positief by te dra tot die ekonomiese groei en uitbreiding van die groter George. Langs hierdie weg kan ons armoede, misdaad en sosiale verval aanspreek," het Gericke gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'