Update
GEORGE NUUS - 'n Ongetroude, hawelose paartjie wat Saterdagoggend in hegtenis geneem is nadat 'n man in 'n bakleiery in Langenhovenstraat dood is, is Maandag deur die polisie vrygelaat.
Die polisie het die paartjie (albei 38) op aanklag van moord gearresteer nadat die vrou die slagoffer van agter met 'n besemstok oor die kop geslaan het. Hy is kort daarna op die toneel dood.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die staat die saak voorlopig teruggetrek in afwagting op 'n nadoodse ondersoek. Die voorval het om ongeveer 09:10 plaasgevind. Die slagoffer was met die man in 'n bakleiery betrokke op die sypaadjie naby die troeteldierwinkel in Langenhovenstraat.
Toe 'n polisievoertuig van die George-hospitaal se kant af op pad na Yorkstraat verbyry, het die slagoffer dit voorgekeer en om hulp gevra. Die polisie kon nie in die verkeer terugdraai nie en terwyl hulle die voertuig uit die pad getrek het, is die oorledene terug na die ander man en vrou. Die bakleiery is hervat.
Volgens Pojie het die oorledene na bewering die ander man se kop onder sy een arm vasgeknyp. Dit was toe dat die vrou hom glo drie houe met 'n besemstok geslaan het.
"Volgens die polisielede wat op die toneel was, het dit in 'n oogwink gebeur voor hulle iets kon doen," het Pojie gesê.
ER24 is ontbied, maar die slagoffer het beswyk voordat 'n ambulans opgedaag het.
Die slagoffer was 'n hawelose persoon in sy 40's.
* A homeless couple (both 38) were released on Monday after being arrested on Saturday 26 May on a charge of the murder of a man who died in a scuffle near the pet shop in Langenhoven Street. The state has withdrawn the charge provisionally while awaiting the results of a post mortem, according to Southern Cape police spokesperson, captain Malcolm Pojie. The two men were fighting when the woman hit the victim with a broomstick on the back of the head. He died before an ambulance arrived on the scene. The deceased was a homeless man in his 40s.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Garden Route news'