Update
GEORGE NUUS - 'n Man en vrou (albei 38) is tans in aanhouding in die George-polisieselle in verband met die dood van 'n man in Langenhovenstraat vanoggend, Saterdag 26 Mei.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sal die twee, 'n hawelose paartjie, Maandag op 'n aanklag van moord in die George-landdroshof verskyn.
"Die voorval het om ongeveer 09:10 plaasgevind. Blykbaar was twee manspersone in 'n bakleiery betrokke. Die oorledene het 'n polisievoertuig wat van die George-hospitaal se kant op pad was na Yorkstraat, voorgekeer en om hulp gevra. Hulle kon nie terugry in die verkeer nie en terwyl hulle eers hul voertuig aftrek, is die oorledene terug na die ander man. 'n Vrou het tot die bakleiery toegetree en die oorledene drie houe op die agterkant van sy kop gegee. Volgens die polisielede het dit in 'n oogwink gebeur."
Die nooddienste is ontbied en die slagoffer het beswyk terwyl hulle vir 'n ambulans gewag het. Volgens Pojie is die paartjie nie getroud nie. Die slagoffer was ook 'n hawelose persoon.
"Ons is nog nie seker van die oorledene se naam nie. Ons vermoed dat van sy familielede in Oudtshoorn woon."
Lees 'n vorige artikel: Man glo met besemstok doodgeslaan
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'