GEORGE NUUS - Jy sal ver soek om so trotse oupa soos Petru Terblanche te kry. Sy kleindogter Emma Erasmus (6) van Kaapstad het Saterdag 23 Desember met die aanvang van die wedstryd tussen die Bulls en die Stormers saam met die kaptein van die Stormers, Deon Fourie op die veld gedraf.
Dit was in die gees van die groot wedstryd. Terblanche is die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer van die Tuinroete distriksmunisipaliteit.
Oupa Petru het spesiaal na Kaapstad gereis vir die geleentheid. Die borge van die spanne het kinders benodig om met die aanvang van die wedstryd saam met die spanne op te draf. Emma wat aanstaande jaar in gr.1 gaan wees, is gekies.
Volgens Petru was Emma ontsettend opgewonde en na die tyd baie trots. Petru self was ook baie trots. Hy is immers 'n groot Stormers ondersteuner.
"Ek het in Hartenbos grootgeword en WP was al die jare my span. Van my kinderdae ondersteun ek die WP. Toe die WP die Stormers geword het, het ek hulle bly ondersteun."Ek het die wedstryd geniet. Rugby het gewen." Hy het bygevoeg: "Ek is bly die Stormers het gewen.
En ja, hy hou duime vas dat die Stormers more, Saterdag 30 Desember weer die knoop gaan deurhaak teen die Haaie.
Terblanche het gesê hy is trots op sy kleinkinders. "Ek kan jou nie vertel hoe trots die oupa is as sy kleinkinders presteer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’