Update
GEORGE NUUS - Die George-oumotorskou sal beslis nie aanstaande jaar by Glenwood House privaat skool plaasvind soos vroeër aangekondig nie, maar waar dit gehou gaan word, is onbekend. Die 2020-skou word gehou op 8 en 9 Februarie, en daar sal glo weldra oor 'n venue besluit word.
Die George Herald het vasgestel dat die beplande skuif van PW Botha Kollege in Yorkstraat na Glenwood tydens 'n onlangse vergadering van die skoukomitee gelei het tot die bedanking van minstens een lid. Die betrokke komiteelid het alle navrae na die organiseerders verwys.
Die skou vind elke jaar onder die vaandel van die Suid-Kaap Oumotorklub plaas en die klub het in November verlede jaar bekend gemaak dat dit in 2020 na Glenwood House gaan skuif as gevolg parkeerprobleme.
'n Woordvoerder van die organiseerders het Dinsdag by navraag gesê die skou sal beslis nie by Glenwood plaasvind nie.
Na aanleiding van die George Herald se navrae is 'n verklaring uitgereik. Luidens die verklaring word jaarliks met groot omsigtigheid nabetragting gedoen om voort te bou op suksesse wat bereik is.
Die George-oumotorskou word dalk wel in 2020 weer by PW Botha Kollege gehou. Dit sal die 23ste skou wees. Foto: Michelle Pienaar
"Die dinamiese aard van die skou vereis voortdurende kreatiwiteit en vernuwende idees. Die Suid-Kaap Oumotorklub het derhalwe 'n verpligting ... om deurlopend 'n skou van hoogstaande gehalte aan te bied.
"Dit is vir die oumotorklub van wesenlike belang dat die skou nie net van sosiale waarde vir besoekers moet wees nie, maar ook die ekonomie van die streek bevorder.
"Gedurende die afgelope jaar of twee is oorweging geskenk aan die verskuiwing van die skou na 'n nuwe terrein. Die hoeveelheid ruimte wat beskikbaar is, parkering, sigbaarheid en toegang tot die PW Botha-terrein is enkele van faktore wat in berekening gebring is.
"Hoewel die oorweging om die skou te skuif met heelwat meriete gepaard gegaan het, het dit by nadere ondersoek deur konsultasie met klublede tydens 'n spesiale vergadering geblyk nie prakties en logisties wenslik te wees vir die 2020 skou nie.
"Hierdie herbesinning van die besluit moet gesien word teen die groter geheel van pro-aktiewe beplanning gebaseer op uitvoerbaarheid en wenslikheid. Die oorweging van alternatiewe terreine moet dus gesien word as deel van 'n natuurlike proses van deursigtigheid en om te doen wat die beste is in belang van die George-oumotorskou. Vernuwende groei en ontwikkeling is die kern doelwit vir die 23ste George-oumotorskou in 2020. Die Suid-Kaap Oumotorklub is daartoe verbind om hierdie vlagskip geleentheid in George en die Suid-Kaap verder uit te bou.
"Veranderinge tot verbetering is deel van goeie bestuur wat ten nouste gekoppel is aan deurlopende konsultasie met alle rolspelers. Die Suid-Kaap Oumotorklub het groot waardering vir die aktiewe betrokkenheid van die lede van die klub en die wyse waarop hulle die belange van die skou op die hart dra."
The George Old Car Show on 8 / 9 February 2020 will not take place at Glenwood House. In November last year it was announced that as of 2020, the show will move from PW Botha College to Glenwood House due to parking problems. The George Herald has established that the move was discussed at a recent meeting of the show comittee. An announcement regarding the venue is being awaited.
Lees 'n vorige artikel: Mercedes se ryk geskiedenis onthou
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'