GEORGE NUUS - Die busdiens wat kinders van Rosedale na Pacaltsdorp Primêr vervoer het, is onlangs gestaak tot groot ontsteltenis van ouers van Rosedale.
"Ons as werkende ouers is verskriklik bekommerd oor ons kinders. Die enigste alternatief is Go George wat geskik is vir ouer kinders, maar die kleintjies het die meer persoonlike diens van 'n bus nodig waar die busbestuurder op hulle veiligheid ingestel is," sê Clara Afrika, een van vele bekommerde ma's wat nou nie meer gemoedsrus het terwyl hulle weet hulle kinders moet veilig by die skool en die huis kom nie.
Afrika wou weet of Go George 'n bus beskikbaar kan stel soggens en smiddae wat slegs leerders vervoer. "Die onderwysdepartement kan dan hulle begroting vir busvervoer aan Go George betaal in plaas van 'n privaat busdiens."
Maar volgens die Wes-Kaapse Onderwys-departement (WKOD) se woordvoerder, Bronagh Hammond, is die aansoek om vervoer vir Rosedale se leerders nie goedgekeur nie omdat hulle binne 5 km van die naaste skole af woon. "Die stapafstand tussen die verste punt in Rosedale na Pacaltsdorp Primêr is ongeveer 4 km."
Sy sê 'n appèl teen die besluit om die busdiens te staak, is wel aan die provinsiale onderwysminister gestuur en die uitslag word afgewag.
"Die WKOD voorsien vervoer aan leerders wat woon in arm gemeenskappe verder as 5 km van hulle naaste skool en waar openbare vervoer nie beskikbaar is nie. Ons vervoer meer as 61 000 leerders op 585 roetes deur die provinsie. Die depar-tement spandeer ongeveer R450 miljoen per jaar om die koste van vervoer te dek."
Volgens Suné Soonies, algemene sekretaris van die PBI (Pacaltsdorp Besorgde Inwoners), is hulle oorval met oproepe en boodskappe van ontstoke ouers nadat die vervoer gestaak is.
Van die leerders wat geraak word, gaan skool by New Dawn Park Primêr. Sy sê ouers is onkant gevang omdat daar onlangs nog 'n reëling in plek was vir die betaling van vervoer.
Volgens Soonies het 'n amptenaar die afstand van Rosedale na Dellvillepark Primêr gemeet en dis meer as 6 km. "Dié skool is ook oorvol. Gevolglik sit baie kinders by die huis."
'Go George kan nie help nie'
Die Go George-maatskappy het by navraag gesê die busdiens werk slegs volgens 'n vasgestelde skedule op vasgestelde roetes. 'n Bus kan nie spesifiek aan leerders toegewys word met 'n bestuurder wat vir hul veiligheid verantwoordelik gehou kan word nie.
"Enige kinders onder 12 wat die bus sonder volwasse toesig gebruik, doen dit ten volle op eie risiko en Go George kan nie verantwoordelik gehou word vir hulle veiligheid nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'