GEORGE NUUS - Nog 'n senior lid van die munisipale ouditkomitee, Christo Lamprecht, het bedank kort na die bedanking van 'n ander senior lid, Flip de Swardt.
LEES MEER: Flip de Swardt bedank uit Ouditkomitee
Dit kom te midde van verskeie vrae die afgelope tyd oor woelinge in die komitee. Die senior bestuurslede van die stadsraad en munisipaliteit, Leon van Wyk, die burgemeester, dr. Michelle Gratz, die waarnemende munisipale bestuurder, bygestaan deur senior amptenare het egter Dinsdag in 'n breedvoerige gesprek met George Herald benadruk die komitee funksioneer. (Sien onder).
Dit blyk uit die gesprek dat 'n tussentydse voorsitter reeds aangewys is en die komitee het verlede week vergader.
Die finansiële state is bespreek. 'n Onafhanklike diensverskaffer wat ingevolge die nuwe handves aangestel is, het ook reeds onderhoude gevoer met kandidate vir die voorsitterskap.
Die diensverskaffer se verslag is nog nie ontvang nie. Sodra dit ontvang word sal 'n item vir 'n stadsraadsvergadering geskryf word vir oorweging deur die raad. Niks onwettig is gedoen nie.
De Swardt en Lamprecht het Dinsdagmiddag in 'n gesamentlike verklaring die eerste keer hul kant die saak in die openbaar gestel. (Sien onder).
Volgens De Swardt is hy diep bekommerd oor die onafhanklikheid van die Ouditkomitee. Lamprecht het gemeld dat hy nie meer sy oorsigrol as lid van die ouditkomitee kan vervul nie.
Die huidige gebeure se aanloop het reeds in April begin en George Herald het daarna daaroor berig. Dit het toe gegons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens die maandelikse stadsraadsvergadering wat voorsiening maak vir die aanwysing van 'n nuwe voorsitter. Vrae is ook gevra of daar nie moontlik politieke inmenging was nie.
In die item is onder meer voorgestel dat De Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee sou word. Hy het toe al meer as drie jaar in die komitee gedien en is aangestel vir nog 'n termyn. In die item is ook voorgestel dat Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien. Die stof het egter nie gaan lê nie.
Tydens verlede week se stadsraadsvergadering wou Virgill Gericke van die PBI hê dat 'n mosie van dringendheid bespreek word oor die woelinge in die komitee en De Swardt se bedanking.
Leon van Wyk, burgemeester, het dit egter teengestaan. Die mosie kon nie ter tafel gelê word nadat die DA en die ACDP en die VF Plus nie ten gunste van die bespreking van die mosie was nie.
Die ANC het wel Gericke se mosie gesteun.
Gericke het Dinsdag gesê hy skryf 'n brief aan die ouditeur-generaal om antwoorde te probeer kry. Volgens hom is dit kommerwekkend dat twee van die mees senior lede bedank het.
Die stadsraad en munisipaliteit stel hul kant:
Dr. Michelle Gratz, die waarnemende munisipale bestuurder, sê die ouditkomitee funksioneer ingevolge 'n handves. Die nuwe handves is op 13 Augustus deur die raad goedgekeur. Dit is nie terugwerkend nie.
'n Nuwe handves is opgestel nadat besef is die bestaande is verouderd. Daar is onder meer met 15 ander munisipaliteite geraadpleeg en vyf vorige munisipale bestuurders wat diens van George het koppe bymekaar gesit. Voorts is insette ook van Nasionale tesourie gekry.
In die nuwe handves is sekere prosedures gewysig. Dit maak onder voorsiening vir die aanstelling van 'n buite diensverskaffer. Die diensverskaffer voer onderhoude met kandidate en laat hulle skriftelike toetse skryf. Hul verskillende vermoëns word getoets om seker te maak dat die beste kandidaat aanbeveel word. Die diensverskaffer stel 'n verslag/aanbeveling op en die raad oorweeg dit.
Voorts kan kwartaallikse vergaderings gehou word en die komitee kan vergaderings belê indien nodig.
Net soos in die verlede word poste geadverteer en mense kan aansoek doen.
Volgens Gratz is daar vyf lede op die huidige komitee. Hulle het baie goeie kwalifikasies. Twee is geoktrooieerde rekenmeesters, een het 'n B.Com honneurs in finansiële bestuur en twee ander is prokureurs. Hulle is onafhanklik en het baie goeie vaardighede.
Leon van Wyk, die burgemeester, sê die onafhanklikheid en integriteit van die komitee moet wel daar bly.
Volgens hom is die veelparty komitee wat oorspronklik die voorsitter moes aanwys, einde Januarie aangestel. Gratz was toe net 'n paar weke in haar pos. Eers daarna het indringende gesprekke plaasgevind oor wat die rol van 'n ouditkomitee is. Dit gaan nou daaroor om die prosesse van 'n ouditkomitee meer professioneel te maak. Daar moet gekyk word na byvoorbeeld die kwaliteite van 'n persoon wat gesoek word en sy/haar onafhanklikheid. Daar is besluit om 'n buite diensverskaffer aan te stel wat 'n kundige is en die ouditwêreld en ouditkomitee wêreld verstaan.
Flip de Swardt
De Swardt en Lamprecht se standpunt:
Flip de Swardt en Christo Lamprecht het Dinsdagmiddag 'n gesamentlike verklaring aan George Herald beskikbaar gestel. Hulle was die twee lede met die langste diens.
Die verklaring lui:
In sy bedankingsbrief aan die munisipale bestuurder meld mnr. De Swardt dat hy nie meer vertroue in die politieke en administratiewe leierskap het nie. Hy meld ook dat hy diep bekommerd is oor die onafhanklikheid van die Ouditkomitee. Mnr. Lamprecht meld dat hy nie meer sy oorsigrol as lid van die Ouditkomitee kan vervul nie.
Die aanloop van hierdie bedankings het reeds in April 2021 begin toe 'n nuwe voorsitter van die Ouditkomitee aangewys moes word.
Die Raad het 'n veelparty Seleksiekomitee aangewys wat 'n aanbeveling vir die nuwe voorsitter sowel as die verlenging van mnr. Lamprecht se termyn moes doen. Die komitee het mnr. De Swardt as voorsitter en ook mnr. Lamprecht se verlenging van sy termyn aanbeveel.
Tydens die Raadsvergadering het die Speaker gemeld dat die item teruggetrek word op aanbeveling van die Uitvoerende Burgemeester. Geen redes is verskaf nie.
Sedert 1 Mei het die Ouditkomitee dus geen voorsitter gehad nie en het sedertdien nie weer vergader nie. Maw dit was disfunksioneel.
Die politieke en administratiewe leierskap het hierna besluit om die Ouditkomitee se Grondwet te verander. Hiervolgens sou 'n eksterne diensverskaffer, onder andere, in die toekoms aanbevelings tov die voorsitterskap en lidmaatskap van die Ouditkomitee maak.
Die waarnemende Munisipale Bestuurder het die voorgestelde veranderinge van die Grondwet aan Raadslede versprei voordat sy dit met die Ouditkomitee bespreek het. Dit is veelseggend.
Nadat die aanbeveling van die Seleksiekomitee teruggetrek is, het die Burgemeester die onsuksesvolle kandidaat vir voorsitter na sy kantoor genooi om die toekomstige funksionering van die Ouditkomitee met hom te bespreek.
Die nuwe gewysigde Grondwet van die Ouditkomitee is einde Augustus deur die Raad goedgekeur. Die doel was om dit terugwerkend toe te pas tov die voorsitterskap wat reeds op 1 Mei vakant geraak het.
Enkele ure nadat mnr. De Swardt bedank het, het die Munisipale Bestuurder sy bedanking aanvaar. Volgens die Grondwet van die Ouditkomitee het hy die reg om die redes vir sy bedanking aan die Stadsraad te meld.
Christo Lamprecht
Alhoewel die Seleksiekomitee reeds in April aanbeveel het om mnr. Lamprecht se termyn te verleng, het die Raad dit teen einde Augustus nog nie goedgekeur nie. Die Munisipale Bestuurder het egter enkele ure na mnr. De Swardt se bedanking sy posisie op die Ouditkomitee gevul sonder om 'n eksterne diensverskaffer te gebruik.
Die Ouditkomitee se Grondwet meld dat die Raad moet toesien dat daar, met die verwisseling van lede, kontinuïteit is. In die huidige Ouditkomitee het vier van die vyf lede geen ervaring of ondervinding nie en aan die einde van Augustus moes hulle die Munisipaliteit se Jaarlikse Finansiële State aanbeveel.
Die vraag is nou: Waarom het die Raad na vier maande nog nie 'n voorsitter van die Ouditkomitee aangewys nie? En waarom is mnr. Lamprecht gedurende hierdie tyd tot met sy bedanking nie steeds nie as lid aanvaar nie?
Die Munisipale Bestuurder het glo by geleentheid met 'n lid van die Ouditkomitee geskakel en 'n brief, wat aan die Speaker geskryf is, met hom/haar bespreek en ook aan hom/haar gestuur. Kan dit as inmenging in die sake van die Ouditkomitee beskou word?
Die Ouditkomitee rapporteer slegs aan die Raad en nie aan die politieke of administratiewe leierskap nie. Dit is nie 'n rubberstempel van hierdie leierskappe nie.
Leon van Wyk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'