GEORGE NUUS - Duidelikheid oor wie die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee gaan wees kan dalk binnekort verkry word nadat Flip de Swardt op Dinsdag 24 Augustus uit die komitee bedank het.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het vroeg Dinsdagoggend gesê hy is bewus van De Swardt se bedanking, maar gaan nie daaroor kommentaar lewer nie.
De Swardt self wou ook niks sê nie. "Ek gaan nie in die stadium kommentaar lewer nie," het hy gesê.
Daar was in 'n stadium sprake dat De Swardt voorsitter sou word. Dit het 'n tydjie gelede gegons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens die maandelikse stadsraadsvergadering wat voorsiening maak vir die aanwysing van 'n nuwe voorsitter.
In die item is onder meer voorgestel dat De Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee sou word. Hy dien al meer as drie jaar in die komitee en is onlangs aangestel vir nog 'n termyn. In die item is ook voorgestel dat Christo Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien.
Die aanbeveling is deur 'n veelparty ad hoc-komitee gemaak.
Handves opgeskerp
In antwoord op vrae oor die huidige funksionering van die komitee het Van Wyk wel gesê 'n nuwe handves vir die komitee is reeds goedgekeur. Die komitee se werksaamhede word gereguleer deur 'n handves. Die stadsraad het daarvoor deur die proses gegaan.
Volgens Van Wyk wil die ouditeur-generaal sien dat ouditkomitees by munisipaliteite hul oorsigrol moet speel.
Daar is besef dat George se handves opgeskerp moet word sodat dit kan reflekteer wat reeds by ander munisipaliteite in die Wes-Kaap gebeur. Daar is ook in die verband met die nasionale tesourie gekonsulteer.
Die moderne praktyk is dat 'n buite konsultant aangestel word om evaluasies van komiteelede te doen en dan 'n aanbeveling aan die stadsraad te maak. Van Wyk het benadruk die huidige komitee bestaan en hy funksioneer.
'n Onafhanklike konsultant is nou aangestel en sal later 'n aanbeveling oor die voorsitter van munisipale ouditkomitee aan die stadsraad maak wat dan 'n besluit sal moet neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'