GEORGE NUUS - Meer as 6 000 leerlinge van agt skole het onlangs tydens verskillende geleenthede geluister na die Christelike getuienis van die bekende oud-Springbok Pierre Spies.
Spies het tydens sy besoek verskeie skole besoek en met die jeug gepraat en ook by 'n geleentheid van die Christian Revival Church (CRC) in George opgetree. Tydens die geleentheid het meer as 900 mense opgedaag.
Jacques Vermaak, voormalige kaptein van die SWD Arende en deesdae betrokke by CRC, het gesê daar is besluit om Spies te nooi sodat hy sy getuienis en sy lewensverhaal met mense kon deel. Spies is op die oomblik betrokke by CRC Pretoria en word opgelei as pastoor.
Pastoor Naas Vermaak, leraar van die plaaslike gemeente, het gesê dit was tydens Spies se besoek duidelik daar is 'n honger by die jeug om die boodskap van Jesus Christus te hoor. Van die leerlinge het probleme tuis en worstel ook met die uitdagings van byvoorbeeld dwelms. Dit is net soos in ander dele van die land. "Die jeug is soekend na hul doel in die lewe en wêreld."
Hy het benadruk dat die eerste oogmerk met die besoek was om die Evangelie te verkondig.
So 'n geleentheid is tot voordeel van George en die hele gebied. Hulle moedig die jeug aan om betrokke te raak by 'n gesonde kerk.
Die kerk beplan 'n opvolggeleentheid vir 30 Oktober. Dit staan bekend as 'Harvest' en sal by die Outeniqua-stadion gehou word. Die kerk se leierpastoor, At Boshoff van Pretoria, is die hoofspreker tydens die geleentheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'