Wilmith Martin (6) het breed geglimlag in sy ma se arms by die Conville-polisiekantoor waar die soekgeselskap om hom saamgedrom het, sigbaar verlig dat hy veilig teruggevind is.
Die bekkige kleuter, het volgens inligting tussen 08:00 en 09:00 van sy huis in Marlynstraat in Maraiskamp weggedwaal en is om 10:00 by die Conville Primêre Skool opgemerk waar hy 'n leerder vir 'n stukkie brood gevra het.
Volgens kapt. Elsa Gerber, die kommunikasiebeampte van die Conville-polisie, het sy ma, Wilma, hom omstreeks 17:30 as vermis aangegee waarna hulle onmiddellik na die kleuter begin soek het.
Die soektog is na middernag gestaak en vroeg Dinsdagoggend weer voortgesit. Wilmith is kort na 13:00 by sy tante (sy pa se suster) by haar huis in Zone 8 opgespoor.
Dit is in die stadium onduidelik hoekom Wilmith se tante nie sy ma in kennis gestel het dat hy by haar is nie. Sowat 13 inwoners
van die omgewing, twee buurtwaglede en verskeie polisiebeamptes van Conville het aan die soektog deelgeneem.Wilna het by die polisiekantoor aan die George Herald gesê sy is baie bly haar seuntjie is veilig.
"Ek dink hy het na sy pa wat in Thembalethu gebly het gaan soek.
Ek sal probeer om hom binnekort na hom toe te neem, sodat hy beter kan verstaan en sien waar sy pa is," het sy gesê.
Wilmith se pa is na verneem word tans in die St Albans-gevangenis in Port Elizabeth waar hy tronkstraf uitdien.
Sowat 13 inwoners van Maraiskamp in Conville, twee buurtwaglede en verskeie polisiebeamptes van Conville het aan die twee dae lange soektog na Wilmith Martin (6) deelgeneem. Hier is die groep na hul aankoms by die Conville-polisiekantoor met die giggelende Wilmith wat hoog op skouers van konstabel Nathan Slater sit.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS