Donson het verlede Dinsdag 11 April tydens 'n koukusbreuk met 'n spesiale Eden-distriksmunisipaliteit-vergadering voor die ingang van die raadsaal gestaan en gesels met raadslede, toe hy Vermaak sien uitstap.
Donson het Vermaak verwar met Drewan Baird van O!O Online, wat al verskeie berigte oor Donson se kriminele rekord op die internet geplaas het. Hy het onmiddellik sy gesprek met die raadslede gestop en gedink dis nou die kans om vir Baird op sy plek te sit, min wetende dat hy die verkeerde persoon takel.
"Jy is mos die f%%$#n outjie wat so oor my skryf. Kyk, so lyk ek. Jy moet f%#*&f ," het hy Vermaak voor die geskokte raadslede toegesnou. Vermaak het gesê hy kon nie 'n woord inkry om Donson daarop te wys dat hy hom met iemand anders verwar nie.
"Donson het net aanhou vloek. Ek het besluit dat ek my nie so laat verneder nie en het 'in sy taal' hom probeer stil kry. Die volgende oomblik het hy op my afgestorm en wou my aan die bors gryp, maar toe van die raadslede hom keer, kon hy net daarin slaag om sy vinger onder my neus te druk."
Volgens Vermaak was van die raadslede so geskok oor Donson se tirade, dat hulle sommer onmiddellik weer hulle sitplekke gaan inneem het.
Baird het in reaksie op die gebeure 'n SMS aan Donson gestuur en gesê: "Donson, ek verneem jy wou my aanval en het Christo Vermaak vir my aangesien. Jou optrede is gronde vir onmiddellike skorsing!" In antwoord op Baird se SMS het Donson hom daarvan beskuldig dat hy by die DA betrokke is en met hom probeer onderhandel het om in koalisie met die DA te werk. Op 'n vraag aan Baird van die George Herald: "Wat sou jy gedoen het as dit wel jy was wat daar gestaan het en Jonson wou jou te lyf gaan?," het Baird gesê: "Ek het laas in gr.1 iemand geklap. Ek is nie 'n aggressiewe mens nie."
Vermaak het gesê hy oorweeg geen verdere stappe teen Donson nie.

Drewan Baird van O!O Onlne, Jeffrey Donson se eintlike teiken.