'n Huiswinkel wat vroeër die oggend, in opdrag van die George-munisipaliteit, deur die balju leeggedra is, het glo die vonk veroorsaak wat gemoedere laat opvlam het.
Balie's Shop, die huiswinkel, behoort aan Deon Balie, 'n inwoner van Golden Valley. Die inwoners is hoogs ontevrede omdat net hierdie winkel in Robynsingel geteiken is, terwyl buitelanders tientalle huiswinkels en kafees in die area bedryf, het Lorraine van Schalkwyk, 'n gemeenskapsleier, gesê.
"Daardie mense se winkels, soos Raja's, is soms baie vuil. Mense praat ook dat hulle dwelms daar verkoop. Hoekom word hulle nie ondersoek nie?" het Van Schalkwyk gesê.
Inwoners het omstreeks 12:00 voor Raja's Shop in Crystellaan, die hoofstraat van Golden Valley saamgedrom.
Aanvanklik het dit na 'n rustige betoog gelyk, maar soos die emosies versterk het, het jeugdiges en jong kinders begin klippe gooi na die sowat ses polisievoertuie en handjie vol beamptes wat op die toneel was.
Polisieversterkings is ingeroep en 'n Casper-voertuig het die oproeriges teruggedruk na 'n area hoër op in die straat. Ma's met babas op hul heupe, tieners en klein kinders het teruggehardloop na die huise langs die straat.
Rubberkoeëls is gebruik om die jeugdiges uiteen te dryf. 'n Paar inwoners het twee motorbande in die straat gegooi en aan die brand gesteek.
Balie het gistermiddag ten tye van die betoging aan die George Herald gesê dat hy die afgelope twee weke reeds R48 000 aan regsonkostes spandeer het.
Hy het sy eerste brief van die balju op 2 Julie ontvang, het hy gesê.
"Die prokureurs kon my nie help nie, ek verstaan nie wat aangaan nie. Ek het alles reg gedoen," het hy gesê.
Volgens Balie het hy sy winkel in November verlede jaar oopgemaak, en aansoek gedoen vir die hersonering van sy eiendom, soos aanbeveel deur die munisipaliteit.
Hierdie proses het hom R880 uit die sak gejaag. Sedertdien het hy nog geen terugvoering van die munisipaliteit oor sy aansoek ontvang nie, maar net briewe van die balju, het hy gesê.
Melvin Nike, wyksraadslid van Golden Valley, het gister op die toneel aangekom en probeer om gemoedere te kalmeer.
Volgens Van Schalkwyk het Balie selfs drie keer per week brood aan 'n sopkombuis van George-munisipaliteit verskaf.
As ek opstaan vir my gemeenskap, staan ek morsig op," het sy bygevoeg.
Die oproer in Blanco het te laat plaasgevind vir die George Herald om te wag vir die George-munisipaliteit se kommentaar voor saktyd.
SIEN FOTOGALERY
.jpg)
Skokgranate, traangas en rubberkoeëls het gistermiddag inwoners van Golden Valley in Blanco uiteengedryf nadat die gemeenskap in opstand gekom het.
.jpg)
Blanco het gister meer soos 'n oorlogsone as 'n woonbuurt gelyk.
LEES 'N VORIGE ARTIKEL
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'