Die eerste voorval het vermoedelik laat Donderdagaand 25 Julie in die Jan van Riebeeck-tuine langs Davidsonstraat plaasgevind. Die bestuurder van 'n Discovery-vierwielaangedrewe voertuig het besluit om van Davidsonstraat se kant af die tuine binne te ry.
'n Paar honderd meter verder het die voertuig in 'n watersloot vasgeval. Die volgende oggend (Vrydag 26 Julie) het 'n voetganger op die voertuig afgekom en die munisipaliteit en polisie ontbied. Dit is met 'n munisipale laaigraaf uit die sloot gesleep.
Lt. Annamart Deyce, woordvoerder vir die George-polisie het gesê: "Die polisie het nie 'n dossier geopen nie en ondersoek geen saak ten opsigte van die voorval nie. Die bestuurder sal egter verantwoordelik gehou word vir die skade aan die Van Riebeeck-tuine."
In die tweede voorval het 'n 10 ton-vragmotor agteruit teen 'n afgrond afgeloop toe die bestuurder vermoedelik vergeet het om die handrem op te trek. Die vragmotor was by 'n vulstasie langs die N2-snelweg tussen George en Wildernis geparkeer. Volgens ooggetuies het die bestuurder kleedkamers toe gestap terwyl hy gewag het dat die petroljoggie dit vol diesel maak toe dit agteruit teen die afgrond afgeloop het. Twee swaarvoertuig-insleepvragmotors is gebruik om dit uit te sleep.
Niemand is in enige van die voorvalle beseer nie.

Die Discovery 4x4-voertuig word verlede Vrydagoggend uit 'n sloot in die Van Riebeeck-tuine gesleep. Foto's: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'